main-building12bf8fe65b146fc79f4fff0400aa9400

Vraagteken hang oor Kovsies se SR-verkiesingsproses

AfriForum Jeug het ’n skrywe aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) gerig waarin hulle dié universiteit se gebrekkige en onregmatige verkiesingsprosedures en -reëls van die studenteraad (SR) kritiseer en bevraagteken. Die jeugorganisasie veroordeel ook die UV se besluit om die verkiesing vir ’n derde keer vanjaar uit te stel.

“Voortslepende probleme aangaande die verkiesingprosedures en -reëls – asook die herhaaldelike uitstel van die verkiesing – verhoed nie net die gladde verloop daarvan nie, maar ook dat dit grondwetlik, demokraties en ordelik geskied,” meen Chantelle du Preez, AfriForum Jeug se Kovsie-takvoorsitter en SR-kandidaat vir transformasie.

Sy sê voorts dat die organisasie ook weinig terugvoer van die UV en SR op navrae en klagtes rondom die onderskeie verkiesingskwessies kry.

Verder het die organisasie ook ’n verduideliking geëis rondom die publisering van inligting oor AfriForum Jeug se kandidate op Lindokuhle Ntuli, huidige SR-president en lid van Sasco, se Facebook-blad wat gepaard gaan met verskeie uitlatings teenoor dié kandidate asook AfriForum Jeug. Die organisasie is besig om dié voorval te ondersoek.

“Dit is onaanvaarbaar dat daar soveel probleme tydens ’n SR-verkiesing ondervind word en dat die proses aanhoudend sloer. AfriForum Jeug se kandidate is ywerig om ’n positiewe verskil op die UV-kampus te maak, maar dit wil voorkom of die belange van studente nie vir die SR of universiteit as belangrik geag word nie,” sê Reon Pienaar, AfriForum Jeug se SR-presidentskandidaat.

’n Nuwe verkiesingsdatum is steeds nie aangekondig nie, maar die studentedekaan van die UV het tydens ’n vergadering vanoggend bevestig dat die UV tesame met die Onafhanklike Verkiesingsagentskap (OVA) en die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) gaan poog om vandag te vergader rondom nuwe moontlike aankondigings en verkiesingsdatums.