UP verbreek onderneming om kampus oop te hou

AfriForum Jeug is van mening dat die Universiteit van Pretoria (UP) se besluit om dié universiteit te sluit weens betogings oor studiefooie, ’n verbreking van ’n onderneming deur prof. Cheryl de la Rey, UP se rektor, is.

Dít volg nadat prof. De la Rey gister aan AfriForum en AfriForum Jeug beloof het dat akademiese verrigtinge onverstoord sal voortgaan ongeag die betogings. Prof. De la Rey het in ’n gesprek die volgende onderneem:

  • Die universiteit sal nie weer sluit weens betogings nie.
  • Geweldenaars sal gearresteer en verwyder word.
  • Elke geweldenaar sal summier geskors word.
  • Die polisie sal onmiddellik strafregtelik optree teen oortreders.
  • Studenteraadverkiesings sal vreedsaam voortgaan in 2016.

Volgens Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, is geen stappe geneem om betogers te verhoed om die universiteit tot stilstand te ruk nie, en gevolglik is studente weereens van hulle reg tot onderrig ontneem.

“Volgens die sekuriteit wat op UP se hoofkampus teenwoordig was, het die UP-bestuur glo ’n voorskrif aan sekuriteitsbeamptes gegee om nie in te tree as daar geweld is nie. Dit is ook glo volgens die bestuur ’n opstanding tussen studente. Dit is prakties moontlik en volhoubaar om klasse te beveilig en studente op universiteit te beskerm – UP het egter versuim om die nodige maatreëls in plek te stel en by hulle eie aksieplan te hou.”

AfriForum Jeug is verder van mening dat UP se besluit om die universiteit te sluit bloot aan betogers die oormag gee.