afrikaansmustfall

UP verbied Afrikaanse groepe by taalbeleid-lekgotla; EFF vandaliseer kampus

Die Universiteit van Pretoria (UP) het verskeie Afrikaanse groepe toegang verbied tot die taalbeleid-lekgotla (bosberaad) wat op 28 Mei 2016 plaasvind.

Verskeie organisasies wou vir dié beraad registreer om ook hulle insette aangaande die taalbeleid te lewer. Te midde hiervan is die UP gister gevandaliseer toe slagspreuke soos “F*ck Afrikaans”, “Afrikaans Must Fall” en “#AMF” op kampusmure gespuitverf is.

“Afrikaanse studente wil graag aan die lekgotla deelneem, maar die enigste wyse waarop die EFF wil deelneem, is deur haatspraak en geweld. Die Universiteit skroom nie om Afrikaanse studente uit te sluit nie, maar doen niks om kwaaddoeners aan te spreek nie,” het Marthinus Jacobs, AfriForum Tuks-voorsitter, gesê. “In Februarie is AfriForum Tuks uit vergaderings gegooi net omdat ons insette oor die taalbeleid wou lewer.”

AfriForum Tuks het klagtes teen die EFF se vandalistiese en afbrekende kultuur op kampus by die UP se departement van studentesake ingedien en geëis dat daar teen die oortreders opgetree moet word.

AfriForum Jeug is van mening dat enige proses wat studente verhoed om hul insette te lewer, ongeldig is. “Hierdie uitsluiting toon weer eens dat die UP nie belangstel om na studente-insette te luister nie, maar eerder gehoor sal gee aan ’n ekstremistiese minderheid soos die EFF,” het Morné Mostert, AfriForum se nasionale projekkoördineerder, gesê.