UV weier nie-geskorste student toegang tot gradeplegtigheid

AfriForum Jeug gaan een student van die Universiteit van die Vrystaat (UV) bystaan, nadat die universiteit dié jong man, wat na bewering by die eerste beweerde aanrandingsinsident op die kampus betrokke was, via SMS ingelig het dat hy nie welkom is by sy gradeplegtigheid aanstaande maand nie. 

Dié wit student is ná die beweerde aanranding van alle studenteregte ontneem, terwyl hy en ʼn ander betrokke student nog geen geleentheid gegee is om hul kant van die saak te stel nie.

Prof. Jonathan Jansen, rektor van die UV, voer aan dat “die risiko van moontlike negatiewe reaksie van studente nog te groot is”.

“AfriForum Jeug se grootste probleem hiermee is die UV se viktimisasie van die studente. ʼn Gradeplegtigheidseremonie is die grootste gebeurtenis in enige student se lewe. Ons gaan die bestuur nader om die besluit te heroorweeg,” sê Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug.

“Daar is skokkende dubbel standaarde. Die UV bly hierdie jong mans teiken, maar in die jongste voorval het ʼn swart student wat by ʼn beweerde aanranding op die kampus betrokke was, slegs ʼn opgeskorte boete van R1000 gekry. Dit blyk dat dissiplinêre prosesse aan die UV bepaal word deur die velkleur van die beweerde oortreder,” sê Maree.

“Die groot vraag is: Waar is die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande? Daar was twee voorvalle van beweerde ontgroeningspraktyke by die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit en groot bohaai is gemaak en ondersoeke gelas deur die minister. Nou was daar twee gevalle van beweerde aanranding op die UV-kampus, maar daar is geen reaksie van die departement nie. Die gevolgtrekking wat gemaak kan word, is dat die departement hul eie dubbel standaarde het en die Puk-sage uit verband geruk is.”