Universiteitsgelde is te hoog, maar kampusgeweld ongeregverdig

Suid-Afrika se kampusse brand as gevolg van transformasie. Dit is die mening van AfriForum Jeug nadat verdere gewelddadige betogings op die kampusse van die UP, US en NWU uitgebreek het. Volgens AfriForum Jeug-woordvoerder, Ian Cameron, gons die sosiale media met foto’s en videomateriaal van hoe studente aangerand en geïntimideer word.

Volgens Cameron het die betogings ook ʼn politiese motief. Klasgelde alleen is nie die motief nie. “Hierdie radikale studentegroepe (SASCO, EFF, en die ANC-jeugliga) se gewelddadige optogte is ʼn dekmantel om op transformasie aan te dring daar waar hulle nie sogenaamde ‘beheer’ het nie,” het Cameron gesê.

Volgens Cameron is AfriForum Jeug ook gekant teen die enorme verhogings in klasgelde. AfriForum voer tans veldtogte wat daarop gemik is om klasgelde te verlaag. Dit is egter nie nodig om kampusse te ontwrig nie. Tans maak hierdie radikale studentegroepe inbreuk op ander studente se regte omdat klasse en eksamens ontwrig word.

Ons kan ook nie uit die oog verloor dat kampusse ʼn mikrokosmos in die huidige landswye situasie is nie. Die geweld en vlakke van intimidasie op universiteite vorm deel van ʼn groter simptoom in die land van wetteloosheid, aangedryf deur die ANC se transformasie-agenda.

Intussen het die dreigende geweld daartoe gelei dat klasse aan die Universiteit van Pretoria op Woensdag, 21 Oktober gestaak word.