UV1

Taalherrie by UV duur voort: Studente kla oor Engelse onderrig en word geviktimiseer

AfriForum Jeug het klagtes van studente uit verskeie fakulteite van die Universiteit van die Vrystaat (UV) ontvang dat klasse wat oorspronklik in Afrikaans beskikbaar was, toenemend slegs in Engels aangebied word. Dít volg ondanks die uitspraak deur die hooggeregshof op 21 Julie 2016 téén die UV se nuutaanvaarde taalbeleid – wat duidelik stipuleer dat meertalige onderrig deur die UV bevorder moet word – en ten spyte van die feit dat die huidige taalbeleid steeds vir Afrikaanse onderrig voorsiening maak.

Die UV is van voorneme om teen die hofuitspraak te appelleer. ’n Aansoek deur AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit om intussen die implementering van 2017 se nuutaanvaarde beleid teen te staan, word binnekort in die hooggeregshof in Bloemfontein aangehoor.

“Die universiteit gaan voort om hul beoogde taalbeleid te implementeer terwyl die ou beleid steeds geld en selfs voor die appèlsaak aangehoor en afgehandel is. Personeel intimideer studente wat die verengelsing van klasse bevraagteken,” het Ju-Mari Pretorius, AfriForum Jeug se kampuskoördineerder by die UV, gesê.

Pretorius sê voorts dat lektore drogargumente teenoor studente maak soos dat indien jy ’n Engelse fliek kan kyk, jy netsowel onderrig in Engels sal kan baasraak.

AfriForum Jeug wil hierdie, asook ander klagtes, verder ondersoek en doen ’n beroep op studente om enige voorvalle van klasse wat skielik net in Engels aangebied word, of studente wat geïntimideer word om nie Afrikaanse onderrig te vra nie, by die jeugorganisasie aan te meld by https://afriforumjeug.co.za/kovsies-2017-taalbeleid/.

Lede van die gemeenskap kan AfriForum Jeug se veldtog ondersteun deur “Afrikaans” te SMS na 32687 (R1).