logo

NWU-raad misken stem van Afrikaanse studente

Die Raad van die Noordwes-Universiteit (NWU) het die Reform Puk-groep uitgenooi om hul volgende raadsvergadering toe te spreek. Dít, nadat AfriForum Jeug Pukke die visekanselier, prof. Dan Kgwadi, ingelig het dat Reform Puk geen wettigheid het nie. 

“Waarom nooi die Raad die Reform Puk-groep na hul vergadering, wanneer dié klein groep nie eers ʼn geregistreerde liggaam by die NWU is nie? Slegs Reform Puk is hierdie geleentheid gebied, nie een van die ander geregistreerde studente-organisasies nie. Dit is onaanvaarbaar, én vreemd, dat hierdie onwettige groep so bevoordeel word,” sê Hans Gildenhuys, voorsitter van AfriForum Jeug Pukke.

AfriForum Jeug Pukke het die NWU-raad versoek om ook ʼn spreekbeurt te kry om hul saak – namens hul lede – voor die Raad te stel.

“Ons het ons standpunte in getalle aan prof. Kgwadi oorgedra tydens ons memorandum-oorhandiging, maar nou moet ons ook hierdie standpunte op formele wyse stel. As die Raad slegs vir Reform Puk ʼn kans gee om te praat, sal hulle nie ingelig wees oor die ware toedrag van sake op die Potchefstroomkampus van die NWU nie.”

Sluit aan by AfriForum Jeug deur “Puk” te SMS na 32687. (R1)