stage1

Kleinsêr-meningspeiling: Kovsie-studente stem ja

AfriForum Jeug Kovsies het ʼn meningspeiling gedoen waarin bevind is dat 99% van studente wat aan dié peiling deelgeneem het, ten gunste daarvan gestem het dat die Universiteit van die Vrystaat (UV) se deelname aan die jaarlikse nasionale ATKV-sêrkompetisie moet voortgaan.

Altesaam 527 individue, wat ouers, studente, oudstudente en voornemende studente insluit, het aan die peiling deelgeneem, waarvan 420 Afrikaanse én Engelse ingeskrewe studente was.

ʼn Herrie het vroeër oor dié sêrkompetisie uitgebreek nadat die voorsitter van die studenteraad (SR), Lindokuhle Ntuli, in ʼn gespreksessie gesê het dat die SR besluit het om sy bande met die ATKV te verbreek.

“Die opname is gedoen om aan die universiteitsbestuur te wys hoe belangrik sêr vir studente is. AfriForum Jeug het dié inligting reeds in ʼn skrywe aan die universiteit bekend gemaak en vergader op Maandag, 16 Mei 2016 met die bestuur. Ons hoop dat die bestuur sal insien hoe belangrik hierdie tradisie vir Afrikaanse en Engelse studente is,” het Marike van As, woordvoerder van AfriForum Jeug Kovsies, gesê.

Die peiling en uitslag het soos volg gelyk:

Moet die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Kleinsêr as deel van die ATKV se nasionale sêrkompetisie voortgaan? Het jy al ooit van die ATKV Kleinsêr uitgesluit gevoel? Moet Kovsies sêr herstruktureer en onder ʼn nuwe naam en regulasie laat funksioneer?
JA 99% 5% 9%
NEE 1% 95% 91%

Die jeugorganisasie moedig alle studente aan om aan die meningspeiling deel te neem.