uv-2-scaled

Dringende hofaansoek om UV-taalplan vir 2017 te stuit

AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit het vandag met hul regspan gekonsulteer na aanleiding van die besluit deur die raad van die Universiteit van die Vrystaat (UV) dat  die onderrig- en administratiewe taal aan dié universiteit in 2017 slegs Engels sal wees.

Konsensus is bereik dat dié drie instellings die hof gesamentlik sal nader met ’n dringende aansoek om interim regshulp teen die implementering van die plan totdat die raad se besluit deur die hof onder die loep geneem is.

Reeds vóór die besluit het AfriForum en AfriForum Jeug die universiteit in regsskrywes genader om terugvoer te versoek oor die feit dat studente wat vir Afrikaanse studie ingeskryf het tans al ervaar dat klasse net in Engels aangebied word. Dit kom uiteraard op diskriminasie teen hulle taalregte neer. Die instellings se belangrikste fokus is nou op die belange van die huidige lede van die drie instellings, asook van ouers met kinders wat voornemende UV-studente is en enige ander studente wat studie in Afrikaans aan die UV wil voortsit.

Die verwydering van Afrikaans is nie die einde van transformasie nie, maar ’n voorwaarde vir die begin daarvan. Kovsies se radikale transformasie en ontwrigting begin nou eers. Die universiteit sal sonder Afrikaans én stabiliteit wees en al drie instellings sal alles moontlik doen om dié situasie te voorkom.