Spotprent-copy
| DeurMedia

Die republiek van die paddas wat uit die pot geklim het

Deur Marike Labuschagne, nasionale koördineerder vir jeugontwikkeling by AfriForum Jeug

Môre herdenk ons 59 jaar sedert Suid-Afrika ’n republiek geword het op 31 Mei 1961. Dr. H.F. Verwoerd het in 1960 ’n referendum geroep om onafhanklikheid van Brittanje te verkry. ’n Meerderheid het ten gunste van Republiekwording gestem.

Die jare wat daarop gevolg het, het voorspoedige vrugte vir die land afgewerp: groot maatskappye soos Sasol en SAL is gestig, die eerste hartoorplanting is gedoen, die land se ekonomie het floreer en die Afrikaner was vry.

Ons kan egter nie die gebeure wat tot Republiekwording gelei het, uitlaat nie. Republiekwording is die realisering van ’n ideaal wat reeds oor eeue strek; die vryheidsideaal van die Afrikaner om oor homself te regeer. Gebeure soos die Groot Trek, asook die stigting van die twee Boererepublieke (die ZAR en die Oranje-Vrystaat) getuig hiervan. Ten spyte daarvan dat hierdie twee republieke op 31 Mei 1902 tot ’n einde gekom het, het die Afrikaner se vryheidsvlam steeds bly brand om in 1961, dekades later, weer ’n werklikheid te word.

Ná die magsoorname deur die ANC-meerderheidsregering in April 1994 het ons egter ’n nuwe bedeling gekry en ook weer deel geword van die Britse statebond. Pres. Cyril Ramaphosa het per geleentheid wit mense met ’n padda in ’n pot vergelyk waarin die koue water langsaam verhit word. Dié opmerking van Ramaphosa het stelselmatig deur die optrede van die ANC-regering tot ons lewens deurgedring. Dit is op universiteitskampusse, in ons alledaagse samelewing, asook waar ons onsself tans midde in die COVID-19-pandemie bevind sigbaar met die regulasies en wette wat daarmee gepaardgaan.

Ons kan die huidige geslag Afrikaners rofweg in drie groepe verdeel; vir argumentsonthalwe gaan ek hulle met drie tipe paddas vergelyk.

Die padda wat nie hoor, sien of praat oor wat aan die gang is nie

Daar is steeds sommige Afrikaners wat vergeet het dat hulle Afrikaners is. Dié groep swem nog gerieflik in die pot rond en besef nie dat die water in die pot al hoe warmer word nie.

Die padda wat in sweet begin uitslaan

Dan is daar ’n groep paddas wat weet dat hulle Afrikaners is en begin agterkom dat die water in die pot al hoe warmer word en dus begin om ’n bietjie meer benoud rond te swem. Hulle swem egter in sirkels en weet nie regtig watter kant toe nie.

Die padda op die rand van die pot

Hierdie groep paddas weet wat om hulle aangaan en besef dat hulle Afrikaners in murg en been is. Hulle staan reeds buite die pot en waarsku die ander twee groepe dat die water nou te warm is en dit tyd is om uit te klim.

Die vraag is egter die volgende: Wat beteken dit om uit die pot te klim? Weer eens is daar rofweg drie opsies.

Opsie 1: Maak die kopskuif

Volg die nuus en ander bronne, lees op oor die geskiedenis, maak die gevolgtrekking en klim uit die pot, selfs al is dit net eers in jou kop.

Opsie 2: Ruil jou apatie vir ywer

Word deel van ’n organisasie of instelling wat jou belange op die hart dra en opstaan vir dit waarin jy ook glo. Ondersteun mense en ondernemings wat dieselfde as jy glo en dink. As jy jou eie onderneming besit, gee daardeur terug aan jou gemeenskap.

Opsie 3: Trek

Vestig jou op ’n plek soos ’n ankerdorp waar daar getalsgewys genoeg Afrikaners woon om verskillende vlakke van selfbestuur moontlik te maak.

Ons is verby die tyd waar ons onsself uit ’n situasie kon skiet of stem, maar dit is nie ’n tyd om moedeloos te raak nie. Dit is ’n tyd om tot nuwe insig te kom en nuwe planne te maak. Ons het ’n punt bereik waar dit tyd is om uit die pot te klim en ’n dam te gaan soek. En as dit nodig is, om daardie dam self te bou. Hier – in Suid-Afrika.

#HierOmTeBly #OndersteunJouEie #MoegGevra #HelpMekaar #AfriForumStaanSaam