Die jeug is reg vir die volgende goue era

Sowat twintig studente van Maties, Tuks, Kovsies en die Puk het van regoor die land saamgekom om aan die AfriForum Jeug-toer deel te neem.

Die toer, wat sowel ʼn nasionale leierskapsontwikkelings- as ʼn geskiedkundige toer was, het oor tien dae en vyf provinsies gestrek.

Dit was ʼn besondere geleentheid wat ons studente gehad het om ons geskiedkundige erfenisskatte te besoek en die verlede te herleef. Plekke wat ons besoek het, sluit Majuba-kop in, waar die Boere die magtigste ryk destyds op sy knieë gedwing het. Ons het in die ossewaens by Bloedrivier geslaap, waar God sy hand kragdadig oor ons volk gehou het. Daar was die emosionele toer van die Vrouemonument in Bloemfontein en die konsentrasiekamp buite Orania. Hoewel dit ons soms met ʼn ontnugterende gevoel gelaat het om dié erfenisterreine te besoek, was dit ook inspirerend.

Dis inspirerend as jy as student daar staan en die swaarkry in die konsentrasiekampe beleef waar tienduisende vroue en kinders omgekom het. En as jy op Spioenkop staan en wil bars van trots, weet jy dat daar ʼn toekoms vir ons in hierdie land is . ʼn Toekoms waarin ons kan glo en waaraan ons reeds saam bou. Die studente wat ek bevoorreg was om op hierdie toer te ontmoet, is passie- en talentvol en ek het geen bekommernisse meer vir ons toekoms nie.

Tog is ons geskiedenis nie meer iets wat ons op skool leer nie. Die media beeld ons geskiedenis gewoonlik egter baie selektief uit. Daarom het die jeug self die verfkwasse geneem en die Bloedriviermonument se heinings gaan verf. As die regering ons geskiedenis verdraai of uit die skoolplan weglaat, skryf ons self ʼn boek of twee, organiseer ons toere, maak ons kort video’s en dokumentêre films, voed ons onsself op en hou self ons erfenis in stand – want ons kan. Ons het die mag in ons hande om onsself onmisbaar te maak en ʼn tuiste hier aan die suidpunt van Afrika te verseker waar ons vry, veilig en voorspoedig kan leef.

Toe ons klein volk deur die Britte platgeslaan is en ons nie eens meer huise gehad het nie, het ons opgestaan. Uit die as van ’n verskoeide aarde het ons volk homself weer herbou. Ons het maatskappye, instansies en universiteite met helpmekaarinisiatiewe gebou. Ons het die wil en die mag om dit weer te doen.

Die jeug is reg vir die volgende goue era. Is jy?

Deur: Bernard Pieters