AfriForum versoek dringend inligting oor Maties-grondwet

AfriForum Jeug se Stellenbosch-tak het onlangs sowel klagtes as ’n regsmening by die Universiteit van Stellenbosch (US) se studentehof ingedien waarin inligting rondom die wettigheid van die huidige studentegrondwet versoek word. Die klagtes spruit uit inligting wat die jeugorganisasie bekom het wat daarop dui dat die huidige dokument moontlik nie wettig is nie.

Talle navrae rakende die goedkeuring van die huidige studentegrondwet is aan mnr. George Steyn, voorsitter van die US-raad, me. Ronell Retief, registrateur van die US, me. Bridget Schreiber, senior direkteur van studentesake, asook die US-studentehof gestuur.

“Ek het drie keer vrae aan mnr. Steyn gestuur met geen terugvoer van hom nie, terwyl me. Retief en me. Schreiber nie direk my vrae kon beantwoord nie. Die studentehof het ontvangs van die klagtes erken, maar tot dusver is geen terugvoer ontvang nie,” sê Bernard Pieters, AfriForum Jeug-koördineerder by die US.

Die navrae handel onder meer oor die aspekte van die proses wat gevolg is rakende die implementering van die huidige studentegrondwet asook die aspekte rondom die finale goedkeuring van die dokument.

Indien die inligting rondom AfriForum Jeug se klag korrek is, is die implikasies soos volg:

  • Die studenteraadsverkiesing, verkiesingsreëls en studenteraad is sedert 2014 ongrondwetlik en dus ongeldig.
  • Die US-raad het doelbewus ’n ongrondwetlike grondwet deurgedruk en uitgevoer.

In die klag wat by die studentehof ingedien is, versoek AfriForum Jeug dat:

  • die legitimiteit van die huidige studentegrondwet bepaal word;
  • die huidige studenteraadsverkiesing tot niet verklaar word omdat geldige prosesse nie gevolg is nie;
  • alle verkiesings wat onder die ongeldige grondwet geskied het tot niet verklaar word;
  • alle finansiële besluite deur die US en hul befondsing van die studenteraad vanaf 2014 deur ’n onafhanklike ouditeursfirma ondersoek en geoudit word; en
  • daar bepaal word watter instansie(s) en persone verantwoordelik was vir die gebruik van die ongeldige grondwet(te) en die gepaardgaande uitgawes en befondsing.

Na wat verneem word, is die oorspronklike studentegrondwet aanvanklik goedgekeur, maar nie weer nadat daar ’n reeks veranderings aangebring is nie. Die studenteraad wat in April vanjaar die geldigheid van dié grondwet verdedig het, het dié inskrywing intussen verwyder.