Facebook

AfriForum Jeug VSR-kandidatuur regmatig herstel

Die studente-appèlhof van die Universiteit van Stellenbosch (US) het op 9 September 2016 uitspraak gelewer rakende die appèl van die agt AfriForum Jeug-kandidate wat aan die verkiesing van die verteenwoordigende studenteraad (VSR) deelneem.

Dié kandidate het op 25 Augustus 2016 appèl ingedien teen die beslissing van die studentehof van dié universiteit oor die opskorting van die kandidatuur aan die 2016/2017 VSR-verkiesing.

Die studente-appèlhof het bevind dat die studentehof ʼn fout gemaak het om die AfriForum Jeug-kandidate uit dié verkiesing te skors en dat die studentehof verder onregmatig gehandel en buite sy magte opgetree het om die VSR-verkiesing ongeldig te verklaar. Dié uitspraak las verder dat daar ʼn nuwe verkiesingsproses van stapel gestuur moet word en dat alle klagtes teen die AfriForum Jeug-kandidate onvoorwaardelik teruggetrek moet word.

Volgens Bernard Pieters, VSR-voorsitterskandidaat, laat dié appèl ruimte vir applikante om wéér klagtes te lê indien nodig. “Enige klagtes moet teen vandag by die stembuskonvenor ingedien word, waarna bevindinge teen eerskomende Woensdag bekend gemaak moet word.”

Pieters sê voorts dat die studentehof se pogings om dié verkiesing te kaap, gestuit is.

“Ingevolge die uitspraak van die studente-appèlhof moet die verkiesingsproses weer in die mag van die verkiesingskonvenor geplaas word, soos deur die studentegrondwet vereis.”

“Dit is jammer dat ʼn dringende hooggeregshofaansoek én appèlaansoek by die studente-appèlhof nodig was om die studentehof tot verantwoording te roep en te laat besef dat AfriForum Jeug geen verkiesingsreëls oortree het nie. Hieruit is dit duidelik dat daar onregmatig teenoor ons kandidate opgetree is en ons sal ook opstaan waar ander studente se regte geskend word,” sê Morné Mostert, AfriForum Jeug se nasionale woordvoerder.