UFS

AfriForum Jeug vier nie vanjaar Jeugdag nie

Die burgerregte-organisasie AfriForum Jeug vier nie vanjaar Jeugdag nie omrede die ANC-regering toenemend sy onbevoegdheid ten toon stel en die omstandighede in Suid-Afrika gevolglik ’n al hoe swakker toekomsverwagting vir die Suid-Afrikaanse en Afrikanerjeug daarstel.

Toenemende rasgedrewe en diskriminerende beleide, die weerhouding van geleenthede, asook gruwelike dubbele standaarde het tot gevolg dat die Afrikanerjeug al hoe meer vervreemd in hul geboorteland voel.

“Miljoene rande van belastingbetalers se geld word op Jeugdag aan partytjies spandeer, terwyl talle jongmense van die geleentheid ontneem word om te studeer. Om dié rede sal AfriForum Jeug as deel van die Solidariteit Beweging voortgaan om aan ’n toekoms te bou waarin jong Afrikaners weer tuis in Suid-Afrika sal voel,” sê Henk Maree, hoof van AfriForum Jeug.

Die afgelope jaar is gekenmerk deur betogings deur talle ongelukkige studente en jongmense regoor Suid-Afrika. Minder geleenthede vir jongmense, leë beloftes van ’n beter toekoms en ’n krimpende ekonomie is slegs ’n paar van die oorsake waarom daar geen rede tot feesviering is nie.

“Wanneer die jeug weer ’n toekoms in Suid-Afrika het waarin hulle vry, veilig en voorspoedig kan wees, sal AfriForum Jeug dié dag vier,” sluit Maree af.