11-1619
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug veroordeel Braamfontein-geweld

AfriForum Jeug is van mening dat pres. Cyril Ramaphosa verantwoordelikheid vir die onlangse geweld by universiteitskampusse moet aanvaar en die Nasionale Skema vir Finansiële Bystand vir Studente (NSFAS) verantwoordbaar moet hou vir die kontrakte wat hulle met studente gesluit het.

Dít volg ná studente van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) vandeesweek met protesaksies begin het as gevolg van verhoogde universiteitskoste.

Studente is onder meer ontevrede oor die grootskaalse finansiële onreëlmatighede by NSFAS en die onregmatige staking van studiehulp aan sowat 5 000 studente in 2020. Verder heers daar ook groot onsekerheid oor die finansiering van hul studies vir 2021.

“Hoewel AfriForum Jeug die vernietigende protesaksies ten sterkste veroordeel, moet ons ook besef dat hierdie optrede die simptoom van ’n groter probleem is wat deur die regering geskep word,” sê Bernard Pieters, bestuurder van AfriForum Jeug. “Verder kon die dood van ’n onskuldige persoon verhoed gewees het indien die situasie beter hanteer is.”

AfriForum Jeug voer verder aan dat die voorwaardes vir NSFAS-finansiering jaarliks bekendgemaak moet word aangesien daar slegs finansiering vir ’n sekere aantal studente beskikbaar is en dit ook onderhewig is aan spesifieke kriteria.

AfriForum Jeug het in 2020 met regsaksie teen NSFAS begin; hierdie regsaksie word nie net namens AfriForum Jeug-lede gedryf nie, maar is ook oopgestel vir studente buite die organisasie. 132 studente is by die saak gevoeg wie se hulp volgens hulle onregmatig deur NSFAS gekanselleer is. Dié saak word op 14 April 2021 in die Wes-Kaapse Hooggeregshof in Kaapstad aangehoor.

“Ons moet onthou dat dit hoofsaaklik behoeftige studente is wat van NSFAS gebruik maak en dat die meerderheid nie noodwendig regshulp kan bekostig nie. Verder ontneem NSFAS

dié studente van die geleentheid op tersiêre onderrig,” sluit Pieters af.

Raak vandag nog by jou naaste AfriForum Jeug-tak betrokke en help sodoende om ’n daadwerklike verskil te maak: Stuur ’n e-pos na jeug@afriforum.co.za.