AfriForum Jeug tree teen SASA-diskriminasie op

AfriForum Jeug het op 27 Februarie 2019 sy regspan opdrag gegee om ’n brief aan die Suid-Afrikaanse Skoleatletiek (SASA) te rig, nadat ’n brief vanaf SASA uitgereik is waarin dié liggaam strenger transformasieteikens op hul provinsiale liggame afdwing.

SASA se brief noem onder andere dat elke skoleatletiekspan ’n minimum van 40% atlete uit ’n voorheen benadeelde demografie moet insluit. Op beide hoërskool- en laerskoolvlak word sekere geleenthede slegs vir voorheen benadeelde leerders voorgehou en daar word pertinent gesê dat dié atlete aan geen ander vereistes hoef te voldoen nie.

AfriForum Jeug is van voorneme om atlete, ouers en afrigters by te staan wat deur dié diskriminasie benadeel word.

AfriForum Jeug het in hul regsbrief die volgende vrae aan SASA gerig:

  • Indien ’n swart kind in ’n privaatskool of voormalige model-C skool is, is hy voorheen benadeel?
  • Hoe word ‘voorheen benadeeld’ bepaal? Indien volgens ras, hoe word die ras bepaal?
  • Wat is SASA se definisie van voorheen benadeelde persone?

“Ons is vas oortuig dat die voorheen benadeeldes – waarna SASA se brief verwys – gebruik gaan word om atlete wat op meriete die span sou haal, op grond van ras uit te sluit. Ons kan nie toelaat dat kinders aan rassediskriminasie blootgestel word nie,” sê Henk Maree, hoof van AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug moedig ouers en afrigters aan om hierdie diskriminasie saam met hulle teen te staan. Stuur ’n e-pos aan henk.maree@afriforum.co.za of SMS jou naam na 32687 (R1).