AfriForum Jeug stap vir eerste keer in 104 jaar op volkshelde se spoor

AfriForum Jeug saam met ongeveer 28 studente en ondersteuningspersoneel het van 31 Maart tot 6 April vanjaar die eerste Rebelspoorvasbyt van ongeveer 75 km te voet afgelê. Dié roete strek van Upington tot by die plaas Zwartmodder in die Wes-Kalahari en herdenk die Rebellie (Boereopstand) van 1914-15. Dit is die eerste keer in meer as ’n eeu dat iemand hierdie deel van die rebelle se roete, wat in totaal oor 700 kilometer strek, te voet aflê.

Die skrywer dr. Louis Bothma het die toer gelei, wat gebaseer is op genl. Jan Kemp en sy rebellekommando se woestyntog deur die Kalahari om by genl. Manie Maritz en sy rebellekommando in Duits-Suidwes-Afrika aan te sluit. Die tog het op 1 April in Upington begin en met die sandsloot langs na die plaas Christiana (24 km) gevorder waar kommandant Albert Stadler op 25 Januarie 1915 aan sy wonde beswyk het. Daarna het die groep Kemp en sy Wes-Transvalers se spore oor Gelukspruit en Steenkampsput na Bloubos (15 km) gevolg. Op die voorlaaste dag het die stappers deur driedorings, klipvlaktes en duine via Grondneus na Koegoekoep (15 km) gestap. Op 5 April is die laaste 20 km tot by Zwartmodder afgelê.

“Ons het in 2016 en 2017 met bussies getoer, maar om hierdie roete te stap en die omgee vir mekaar en trots vir die Afrikanergeskiedenis onder jongmense te ervaar, is ’n belewenis,” sê Marike van As, organiseerder van die toer.

Die doel van die toer is om jongmense van hul geskiedenis bewus te maak en van Afrikanervolkshelde te leer. Die toer vorm deel van ’n reeks geskiedenistoere wat AfriForum Jeug vanjaar gaan aanbied.

Hanno Bisschoff, ’n student aan die Noordwes-Universiteit (Puk-kampus), sê dat mens bronne oor die geskiedenis kan naslaan, “maar tensy jy nie self in daardie spore getrap het nie, sal jy nooit die omvang van die opoffering verstaan wat die rebelle vir vryheid gemaak het nie”. Vir Michelle Peens, ’n student aan die Universiteit van die Vrystaat, was die voltooiing van die eerste dag se 24 km in die Upington-hitte ’n hoogtepunt.

AfriForum Jeug wil die volgende rolspelers en borge vir hul bydrae om die toer ‘n sukses te maak, bedank: Keimoes Agri Zone Build Zone, Mediclinic Upington, Stolper en Seuns, John Human, dr. Louis Bothma, pastoor Dekker Stadler, Piet en Rentia Oosthuizen en Wilesta Peens. ‘n Baie spesiale dankie aan die boeregemeenskap wat hul plase, huise en kampplekke aan die toergroep beskikbaar gestel het.

Diegene wat meer van die geskiedenistoere wil weet of daarby betrokke wil raak, kan Marike van As by marike.vanas@afriforum.co.za of 081 217 0008 kontak. Finansiële bydraes ter ondersteuning van die toere sal baie welkom wees.

Begunstigde: AfriForum NPC

Bank: FNB

Rekeningnommer: 62349898398

Takkode: 261550

Verwysing: “Rebelspoor-skenking”.