AfriForum Jeug staan logoverandering van UP teen

AfriForum Jeug het vandag ’n skrywe aan die Universiteit van Pretoria (UP) gestuur oor die beoogde verandering van die UP se logo. Dít volg nadat die UP-bestuur ’n e-pos uitgestuur het waarin hulle verduidelik dat hulle beoog om die universiteitswapen te verander.

Alhoewel hulle studente, personeel en alumni kans gee om daaraan deel te neem, is dit nog ’n stap van die bestuur om die universiteit te transformeer en alle erfenis en trots uit die weg te ruim.

“AfriForum Jeug het ’n dringende skrywe aan prof. Themba Mosia, onderhoof van studentesake, koshuissake en akkommodasie, gerig waarin ons vra dat die proses van moontlike verandering aan ons verduidelik word. Ons eis ook dat die tydperk waaraan studente, personeel en alumni aan die proses kan deelneem, verleng word sodat alle belanghebbendes genoeg tyd het om hulle stem te laat hoor,” sê Chantelle du Preez, AfriForum Jeug se nasionale koördineerder vir tersiêre instellings.

Die UP het vandag ’n dokument oor die beoogde verandering uitgestuur met 6 September 2019 as sluitingsdatum. Die vrae in die dokument is nie neutraal nie en daarom sal hulle die resultaat kry wat hulle nodig het om die logo te kan verander.

 

“Hierdie stap wat deur die universiteitsbestuur geneem is om moontlik die wapen te verander, is nog ’n geleentheid waar geld aan onnodige veranderings bestee word – net soos toe hulle besluit het om die koshuisname te verander. Daar is studente wat finansieel nie die vermoë het om hul rekeninge te betaal nie. Nou wil die universiteit daardie geld aan die verandering van die universiteitswapen bestee in plaas daarvan om hul studente te help,” sê Du Preez.

AfriForum Jeug sal in samewerking met huidige studente en alumni die nodige proses volg om hierdie logoverandering teen te staan.

“Ons sal ook ’n petisie saamstel om ander belanghebbendes se opinies in ag te neem en sal die uitslae aan die universiteitsbestuur bekend maak.”

AfriForum Jeug moedig alle belanghebbendes aan om betrokke te raak om hierdie verandering teen te staan.