Armentum

AfriForum Jeug plaas druk op UV vir deelname aan ATKV-Universiteitesêr

AfriForum Jeug het ’n petisieveldtog van stapel gestuur om druk op die bestuur van die Universiteit van die Vrystaat (UV) te plaas om die Kleinsêr-wenners van dié universiteit toe te laat om aan die eindronde van die ATKV-Universiteitesêr deel te neem.

Dít volg nadat die UV by monde van Tonderai Chiyindiko, senior beampte vir kuns en kultuur aan die UV, eensydig besluit het om die Kleinsêr-wenners – die koshuise Soetdoring en Armentum – se deelname aan dié kompetisie te staak.

Marike van As, woordvoerder van die AfriForum Jeug-tak op Kovsies, sê die UV het dié besluit geneem sonder billike oorlegpleging met alle belanghebbendes.

“Die UV het deelname aan die ATKV-Universiteitesêr opgeskort ten spyte van ondernemings wat aan AfriForum Jeug en huiskomiteelede (HK-lede) vir kuns en kultuur gegee is tydens ’n vergadering oor hierdie kwessie vroeër vanjaar,” sê Van As.

Van As sê verder dat die universiteit geen moeite gedoen het om vergaderings by koshuise, wat die meeste belang by hierdie kwessie het, te belê nie.

Volgens Chantelle du Preez, voorsitter van die AfriForum Jeug-tak op Kovsies, is insette van HK-lede vir kuns en kultuur botweg geïgnoreer en sake wat deur die HK-lede gelug is, is nie op vergaderings van die Verteenwoordigende Studenteraad (VSR) bespreek nie.

“Dit is duidelik dat die VSR nie die belange van studente op die hart dra nie maar bloot ’n politieke agenda voer teen gesonde en gevestigde studentekultuuraktiwiteite,” sê Du Preez.

Du Preez sê voorts dat, indien

nie toegelaat word om aan dié eindronde van die ATKV se Universiteitesêr deel te neem nie, dit die eerste keer in 20 jaar sal wees wat die UV nie op nasionale vlak verteenwoordig sal word nie. Sy is verder van mening dat dié koshuise ’n baie goeie kans staan om tydens die eindronde as oorwinnaars uit die kompetisie te tree.

AfriForum Jeug meen dat die meerderheid studente ten gunste is van kultuuraktiwiteite soos Kleinsêr en graag wil hê dat die koshuise die nasionale eindronde gaan bywoon.

“Dit is slegs ’n klein groep radikale individue wat hulle wil op ander studente probeer afdwing en nie respek het vir ander studente se regte nie, wat hierteen gekant is.”

Volg hierdie skakel om die petisie te teken: https://afriforumjeug.co.za/kovsies-laat-soetdoring-en-armentum-toe-om-aan-die-finaal-van-die-atkv-se-universiteiteser-deel-te-neem/