up

AfriForum Jeug kry hofbevel teen UP, UP-direkteur en EFF

AfriForum Jeug het vandag ʼn hofbevel in die Hooggeregshof teen die Universiteit van Pretoria (UP), dr. Methete Madiba (direkteur van studentesake aan die UP) en die EFF-studenteorganisasie  met koste gewen. Dit volg nadat Madiba op 20 Junie 2016 die kantoor van AfriForum Jeug se tak op die UP onregmatig betree het en ʼn plakkaat uit die kantoor verwyder het.

Volgens dié hofbevel mag die drie bogenoemde partye in die toekoms nie die AfriForum Tuks-studentekantoor onregmatig betree nie en geen materiaal uit die kantoor verwyder nie. Verder is Madiba gemaan om die gesteelde plakkaat binne sewe dae aan AfriForum Jeug terug te besorg.

Volgens Henrico Barnard, AfriForum Jeug se woordvoerder vir die Tuks-kampus, was Madiba oneerlik in haar verklarings en was AfriForum Tuks geregtig daarop om die plakkaat in die kantoor te hou.

“Die EFF-studente-organisasie het Madiba onder druk geplaas om die plakkaat uit die kantoor van AfriForum Jeug Tuks te verwyder. Dié hofbevel is ʼn klinkklare bewys dat dit nie vrugte afwerp wanneer die UP swig onder die druk van die EFF nie,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum Jeug se koördineerder vir die Tuks-kampus. 

“Vanuit die hofstukke wat deur Madiba ingedien is, het dit ook aan die lig gekom dat die EFF-studenteorganisasie tydens ʼn vorige geleentheid drie petrolbomme op die UP-kampus gegooi het. Dit is kommerwekkend dat die UP-bestuur ander pad kyk wanneer petrolbomme op kampus gegooi word, maar ʼn bohaai opskop oor ʼn plakkaat in ʼn kantoor,” sluit Grobbelaar af.