AfriForum Jeug kap Angie Motshekga se ondeurdagte uitlatings

AfriForum Jeug bestempel die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, se stelling, dat graad 11 leerlinge wat gedruip het eerder deurgesit moet word na graad 12, as onregverdigbaar. Die jeugorganisasie meen ook dat die matriekslaagsyfer van 75,8 % misleidend is.

“Dit is onregverdigbaar om ’n graad 11 leerling, wat nie sy graad slaag nie, steeds deur te sit. Dit is gemenesaak dat so ʼn leerling waarskynlik nie graad 12 sal slaag nie,” het Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug gesê.

“Dié benadering is nie volhoubaar nie en gaan nie die probleem van ongeskoolde jeug in Suid-Afrika oplos nie. Leerlinge moet eerder beter bystand van die regering ontvang, en die gehalte van onderrig in armer gebiede moet groter prioriteit geniet. Daar moet ook meer fokus geplaas word op die grondslagfase om probleme in leerders se latere skooljare te verminder,” sê Maree.

AfriForum Jeug het ook matrikulante aangemoedig om hulle te kontak indien hulle sukkel om hul uitslae te bekom.