uv-1

AfriForum Jeug en UV-studente staan saam oor veiligheid op kampus

AfriForum Jeug het gisteraand met talle studente van die Universiteit van die Vrystaat (UV) ontmoet om die pad vorentoe te bespreek ná verlede week se geweld op dié universiteitskampus. Tydens die vergadering is daar sowel ’n memorandum opgestel wat die studente se ongelukkigheid verwoord, as ’n aksieplan om dié kwessies aan te spreek. AfriForum Jeug het vanoggend met me. Cornelia Faasen, die UV se waarnemende studentedekaan, ontmoet om dié eise en aksieplan te bespreek.

“Die betogers is maar ’n klein groepie studente wat deur mnr. Lindokuhle Ntuli, die SR-president, aangevoer word. Die groep studente voer aan dat hulle namens alle studente optree, maar dit is nie die geval nie. Die meerderheid studente op kampus is vreedsaam en wil saam met ander studente klasdraf en graadvang. Die groep ekstremiste maak dit egter onmoontlik,” sê Chantelle du Preez, voorsitter van AfriForum Jeug Kovsies.

Tydens die vergadering op Woensdagaand het studente onder meer geëis dat daar dissiplinêr teen mnr. Ntuli opgetree moet word. Ander eise het ingesluit dat:

  • moedertaal onderrig aandag moet geniet, wat Afrikaans en Sesotho insluit;
  • alle erfenisskatte op die UV beskerm moet word; en
  • waar nodig, berading aan studente gebied moet word.

Die aksieplan is opgestel om die studente se bekommernisse aan te spreek. AfriForum Jeug is bereid om saam met UV-bestuur die kommerpunte aan te pak en uitvoering aan sekere kwessies te gee. Die kwessies het onder meer ingesluit:

  • die bevordering van Sesotho en Afrikaans as onderrigtaal;
  • die opstel van ’n volhoubare veiligheidsplan op kampus; en
  • die skep van geleenthede waar gesonde debatte kan plaasvind sodat alle studente se stemme gehoor kan  woord.

“Die gesprek met die UV-bestuur het goed afgeloop en die bestuur het onderneem om die inligting deur te gaan en binnekort skriftelik op die eise en die aksieplan terugvoer te gee.  Tydens die vergadering het studente oor alle taal- en rasgrense heen heerlik saamgepraat en hul opinies gelug. Ons is baie positief oor die pad vorentoe en glo dat geweld geen plek op kampus het nie.”