Johan-Pienaar

AfriForum Jeug dien polisieklag in teen individue wat aanrand

AfriForum Jeug het vandag ’n klag van aanranding en aanhitsing tot geweld teen mnr. Johan Pienaar en ene me. Mnqundu Wam by die Brooklyn Polisiestasie ingedien.

Dit kom nadat lede van AfriForum Jeug gister tydens ’n vreedsame herdenkingsaksie by die  Universiteit van Stellenbosch (US) se J.H. Marais-standbeeld aangerand is.

Pienaar, wat volgens inligting deel is van OpenStellenbosch en Wam, een van die leiers van dié groep, het AfriForum Jeug en Afrikaanse studente uitgetart, rassistiese aanmerkings gemaak en hulle rondgestamp.

OpenStellenbosch was deel van die EFF se optog, maar het weggebreek na waar AfriForum Jeug ’n ent van standbeeld was. Lede van OpenStellenbosch het op die standbeeld geklim, dit met modder besmeer en EFF-verkiesingsplakkate daarop aangebring.

Dit het gebeur ondanks ʼn ooreenkoms wat AfriForum Jeug met die US-bestuur gehad het dat AfriForum nie naby die optoggangers sal kom nie en dat die EFF en geaffilieerde groepe soos OpenStellenbosch nie die standbeeld sal beskadig nie.

AfriForum Jeug het die standbeeld beskerm en dit na afloop van die gebeure gewas, het Marcus Pawson, AfriForum Jeug-woordvoerder gesê.

“Dit is duidelik dat die US-bestuur nie beheer het oor groepe soos die EFF/OpenStellenbosch wat ander studente ontneem van hulle reg om in vrede op kampus te verkeer nie. Ons het ons erfenis en kultuur vreedsaam gevier.”

Pawson het beklemtoon dat almal in die land moet kennis neem van die EFF se dreigemente om kultuurskatte te beskadig. “Intimidasie soos hierdie kan nie toegelaat word nie.”

Pawson het gesê ’n klag van haatspraak sal ook by die Mensregtekommissie ingedien word nadat OpenStellenbsoch Dubul’ ibhunu (Skiet die boer) en Umshini wami (Bring my masjiengeweer) gesing het.