AfriForum Jeug bevraagteken LLB-akkreditasievereistes

AfriForum Jeug het sy kommer uitgespreek oor die oënskynlik politieke agenda agter die aanpassings wat aan die LLB-graad van die Noordwes-Universiteit (NWU) deur die Hoëronderwys-kwaliteitskomitee (HOKK) vereis word.

Die raad op hoër onderwys het onlangs verskeie gebreke met dié kwalifikasie by die NWU en drie ander instellings uitgewys wat moontlik daartoe kan lei dat akkreditasie teruggetrek word.

Prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU, het op 20 April 2017 ’n massavergadering gehou waartydens studente oor die toedrag van sake ingelig is.

“Ons is bekommerd dat die universiteit nie oop kaarte met studente speel nie. Dit is nie vir studente duidelik waarom die graad nou skielik in gedrang is nie. Te veel van die sogenaamde tekortkominge wat uitgewys is, soos ’n gebrek aan integrasie, transformasie, assessering en gemeenskapsfokus, was nooit voorheen ’n probleem nie,” sê Ohann Fourie, AfriForum Jeug se koördineerder vir die Puk-kampus.

Volgens Fourie wil dit voorkom asof die veranderinge waarop nou aangedring word om akkreditasie te behou, direk met die aanvaarding van ’n nuwe statuut vir die NWU verband hou, wat dit voortaan ’n unitêre instelling sal maak sonder erkenning van die verskillende kampusse en wat op die kampusse bereik word.

“Ons as studente verwag van die NWU-bestuur om oop kaarte met studente te speel en behoorlike verduidelikings te gee oor die pad vorentoe rondom die LLB-graad. Prof. Kgwadi kan nie nou net beloftes maak en waarborge gee dat die kursus se akkreditasie nie teruggetrek gaan word nie. Ons het gewoond geraak aan ’n regering wat net leë beloftes maak. Studente het die reg om ingelig te word.”

Fourie sê studente sal nou moet opstaan en betrokke raak by die proses indien hulle erkende grade wil verwerf. Hulle kan ’n petisie by https://afriforumjeug.co.za/verseker-dat-nwu-llb-graad-akkreditasie-behou/ onderteken om daarop aan te dring dat die universiteit alles moontlik doen om te verseker dat die LLB-graad geakkrediteer bly.