AfriForum Jeug behaal oorwinning vir Afrikaanse geskiedenis op Tuks

AfriForum Jeug verwelkom die besluit van die bestuur van die Universiteit van Pretoria (UP) om die versteekte Paul Kruger bidtuin meer sigbaar te maak.  Hierdie besluit is geneem nadat AfriForum Jeug vanjaar ʼn veldtog vir die behoud en beskerming van hierdie bidtuin van stapel gestuur het.

Die bidtuin bestaan uit vyf bidklippe en vyebome vanaf Paul Kruger se bidtuin op sy plaas wat tydens die halfeeufeesvieringe van UP deur die Krugergenootskap aan UP geskenk is. Charl Oberholzer, woordvoerder van AfriForum Jeug, het vroeër gesê dat die UP ʼn ryk geskiedenis het wat ontgin moet word en dat die sigbaarheid en behoud van hierdie bidtuin verband hou met die vraag of Afrikaanse studente nog welkom by die Universiteit van Pretoria is.

“Ons is verheug dat die universiteit positief op ons versoeke reageer het.  Alhoewel daar nog baie probleme is wat aangespreek moet word, is hierdie besluit definitief ʼn stap in die regte rigting,” het Oberholzer gesê.  “Aangesien ons vanjaar die honderdjarige bestaan van UP vier, is dit gepas om hulde aan ons ryk geskiedenis te bring.”