NSFAS-beurs-gekanselleer-Ons-wil-jou-help
| DeurMedia

AfriForum Jeug begin hofsaak teen NSFAS en sommige tersiêre instellings

AfriForum Jeug het die hof genader nadat dié organisasie vroeër vanjaar klagtes ontvang het van verskeie studente aan tersiêre instellings regoor die land oor die uitbetalings van hul beurse deur die nasionale skema vir finansiële bystand vir studente (NSFAS).

Ongeveer 5 000 studente se NSFAS-uitbetalings is weens verskeie redes gestaak. Van dié redes sluit in dat studente nie eerlik was in hul aansoeke nie of dat hulle nie hul ouers se werklike inkomstes verklaar het nie. Dr. Blade Nzimande, minister van Hoër Onderwys, het op 7 Augustus vanjaar in ’n mediaverklaring aangevoer dat sommige van dié studente oneerlik was in hul aansoeke. Ná ’n toetshofsaak in die Wes-Kaapse Hooggeregshof het dié hof bevind dat dit egter nie waar is vir alle studente nie – minstens een student is van sy beurs ontneem omdat NSFAS nie fondse het om hom te betaal nie.

AfriForum Jeug het reeds ’n skrywe in dié verband aan NSFAS gerig. NSFAS se onvoldoende antwoorde het die jeugorganisasie egter genoop om ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (’n PAIA-aansoek) te bring.

“Die regering speel met ons jeug se toekoms deur ná soveel maande skielik hul beurse te kanselleer en te beweer dat hulle bedrog gepleeg het. Weens dié besluit dwing hulle jongmense om skuld aan te gaan wat hulle nie voorheen sou gedoen het as hulle van meet af aan geweet het dat hulle nie vir beurse sou kwalifiseer nie. Ons gaan nie toelaat dat jongmense wat aan hul toekoms bou deur die regering gepootjie word nie. AfriForum Jeug sal voortgaan om hierdie studente te help en te verseker dat hulle ontvang wat aan hulle belowe is,” sê Chantelle du Preez, AfriForum Jeug se nasionale koördineerder vir tersiêre instellings.

Tot dusver het AfriForum Jeug studente wat die organisasie in dié verband gekontak het, aangemoedig om die NSFAS-appèlproses te volg sodat alle interne remedies uitgeput word voordat hulle as ’n groep in die hofsaak teen NSFAS verteenwoordig kan word.

AfriForum Jeug het ’n aanlyn platform geskep vir studente wat die korrekte prosesse gevolg het en nie hul ouers se finansiële posisie vervals het nie. AfriForum Jeug sal elke aansoek afsonderlik oorweeg om te besluit of die betrokke student by die klas-aksie teen NSFAS en die betrokke tersiêre instelling gevoeg kan word.

Om te kwalifiseer, moes studente:

  • die korrek NSFAS-proses en dié van hul tersiêre instelling gevolg het; en
  • hul aansoek feitlik korrek en betyds ingedien het.

Raak vandag nog by AfriForum Jeug betrokke en help om ’n verskil te maak. E-pos chantelle.dupreez@afriforum.co.za of SMS “NSFAS” na 32687 (R1).

  • Volg dié skakel na die aanlyn portaal.