US

AfriForum Jeug appelleer ná onregmatige opskorting van VSR-kandidate se kandidature by US

AfriForum Jeug het na die studente-appèlliggaam van die Universiteit van Stellenbosch (US) geappelleer teen die onregmatige opskorting van die kandidatuur van sewe kandidate wat aan die verkiesing van die verteenwoordigende studenteraad (VSR) deelneem. Die appèl spruit voort uit onsuksesvolle bemiddellingspogings.

Die opskorting van dié kandidate se kandidatuur kom nadat studente wat by die radikale splintergroep Open Stellenbosch (OS) betrokke is ’n klag teen dié studente ingedien het en hulle daarvan beskuldig het dat hulle die verkiesingsreëls oortree.

Volgens Bernard Pieters, VSR-kandidaat, is daar beweer dat sekere kandidate die verkiesingsreëls weens hul assosiasie met AfriForum Jeug oortree het. Die klagtes teen die studente is aanhangig gemaak deur Neil du Toit, Rochella Jacobs en Marc Rudolph, wat hulself glo met OS assosieer. Pieters sê dat die bewerings wat teen die kandidate gemaak is, vals is.

Tertius Kruger, regsverteenwoordiger van die sewe, sê dat die optrede teen sy kliënte onbillik en onregverdig is. Die verkiesing moes vandag begin het.

Pieters verduidelik dat die OS-ondersteuners onder meer ’n probleem het met die feit dat AfriForum Jeug in Julie vanjaar ’n beurskompetisie ter bevordering van Afrikaans aangebied het en tans met bemarking op die kampus en in Stellenbosch besig is. Hoewel die OS kandidate aangekla het wat met AfriForum Jeug assosieer, het hulle egter geen klagtes teen die DA-geassosieerde kandidaat ingedien nadat die DA T-hemde op die US-kampusse uitgedeel het nie.

Slegs sommige van die sewe kandidate is per hand ingelig dat daar klagtes teen hulle ingedien is en dat hulle op Dinsdag, 2 Augustus om 16:00 voor die studentehof moet verskyn. Een van die kandidate het omstreeks 14:00 op 1 Augustus ’n e-pos gekry wat lui dat die verhoor op dieselfde dag (Maandag) om 16:00 sou plaasvind. Die studentehof is in kennis gestel dat die kandidate bereid is om die sitting by te woon, maar dat hulle billike tyd gegun moet word om hulself daarop voor te berei. Die kandidate het ook reeds vooraf gereël om die US se Saldanha-kampus op Maandagmiddag te besoek. Die studentehof het egter voortgegaan om die saak in die kandidate se afwesigheid aan te hoor. Die kandidate het dus nie tydens die sitting kans gehad om hul saak te stel nie. Die studentehof het nie Maandagmiddag uitspraak gelewer nie, en die aangeklaagdes het in die media gelees dat hulle “geskors” is.

Kruger sê dat sy kliënte aan ’n proses blootgestel is wat op die oog af kwaadwillig blyk te wees en dat dit lyk of ’n politieke agenda gedryf word.

“Die bewering dat my kliënte verkiesingsreëls oortree het, is ongegrond. Die VSR-verkiesingsreëls is bemagtigende reëls wat slegs die individuele kandidate se optredes rig en nie hul grondwetlike regte inperk nie. Dit is bloot verregaande om in enige demokratiese verkiesingsproses kandidate daarvan aan te kla dat hulle te veel bemark. Elkeen het die reg tot vryheid van spraak en wanneer enige organisasie of persoon se reg hiertoe beperk word, word die vryheid en regverdigheid van die verkiesing negatief beïnvloed.”

Cornelius Jansen van Rensburg, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sê indien die OS hul sin kry, sal Matie-studente nie vanjaar vir ’n VSR kan stem nie.

“Daar is tans 14 kandidate wat staan vir nege VSR-vakatures. Indien die uitsluiting van die kandidate nie opgehef sou word nie, sal die VSR outomaties uit die oorblywende OS-gesinde kandidate saamgestel word. Die gevolg sou wees dat 27 000 studente van hul demokratiese regte ontneem is.”

Jansen van Rensburg sê dat AfriForum Jeug tans op alle historiese Afrikaanse kampusse aktief is. Net soos Daso, Sasco, EFF en ander groepe het AfriForum Jeug VSR-kandidate op elke kampus; die verskil is egter dat hierdie AfriForum Jeug-kandidate vir studente se regte sal opstaan.

“Die US doen min moeite om studente te motiveer om aan die VSR-verkiesing deel te neem. Daarom voer ons ’n aparte bemarkingsveldtog om studente by die VSR-stempunte te kry. Ons het ’n verantwoordelikheid om studente te motiveer om hul toekoms in hul eie hande te neem en nie passief te wees. Daar bestaan geen grondwetlike beperking op enige organisasie om dit te doen nie. Bemarkingsveldtogte is eie aan ’n demokratiese verkiesingsproses. Dit is tog hoe studente ingelig en oorreed word om te gaan stem. Om hierteen gekant te wees, is om teen die wese van ’n oop demokratiese stelsel te wees.”

Kruger sê indien die appèl nie slaag nie, sal AfriForum Jeug ’n dringende hofaansoek bring om die kandidate se deelname aan die VSR-verkiesing te verseker.