OLYMPUS DIGITAL CAMERA

AfriForum en Solidariteit bestudeer uitspraak teen verlof tot appèl in UP-taalbeleidsaak

AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit is teleurgesteld oor die weiering van verlof aan hulle om appèl teen ’n hoë-hofbeslissing van Desember 2016 aan te teken. Die laasgenoemde beslissing is gelewer ten gunste van die Universiteit van Pretoria (UP) se besluit om slegs Engels as primêre onderrigtaal aan die universiteit te gebruik.

 

Die organisasies bly van mening dat die universiteit se nuwe taalbeleid op ’n growwe skending van Afrikaanse studente se grondwetlik erkende taalregte neerkom en indruis teen gesonde opvoedkundige beginsels, soos toegang tot moedertaalonderrig.

 

Die regspan van AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit sal die uitspraak oor die weiering van verlof tot appèl bestudeer en aan die hand daarvan oor verdere optrede in dié saak besluit.

 

Omdat die beskerming en handhawing van studente se reg tot Afrikaanse onderrig vir AfriForum en Solidariteit ’n prioriteit bly, duur gesprekke met internasionale forums en kenners voort met die oog daarop om die stryd vir die beskerming van dié reg ook in die internasionale arena aan te pak. Tegelykertyd word alternatiewe Afrikaanse studiegeleenthede ook in die privaat sektor ontwikkel.