applyforufs2013-300x171-1

AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit dien hofstukke in vir regsaak teen UV-taalbeleid

AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit het vandag stukke by die hooggeregshof in Bloemfontein ingedien vir regsaksie om die taalbeleid tersyde te stel wat die Universiteit van die Vrystaat (UV) beoog om in 2017 te implementeer. Die saak behoort in Junie 2016 aangehoor te word.  

In ’n verklaring gister het die UV-bestuur te kenne gegee dat die saak “laat vaar” is en ook dat AfriForum van ’n dringende aansoek “afstand doen”. Aangesien geen saak nog voor vandag by die hof aanhangig gemaak is nie, is dit nie duidelik wat die UV-raad met dié verklaring bedoel nie. Die hofaansoek is vandag op die UV se regsverteenwoordigers beteken en die saak word op ’n semi-dringende grondslag aangehoor.

Die grondslag waarop die saak hanteer word, is sedert die universiteit se raadsbesluit op 11 Maart 2016 oorweeg. Nadat die bestuur van die UV ’n tydsraamwerk voorgestel het wat beteken dat die meriete van die saak op die vinnigste moontlike wyse aangehoor kan word – naamlik in Junie 2016 – is die hofstukke vandag deur die regsverteenwoordigers van AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit ingedien.

Volgens die woordvoerders van dié drie instellings is dit noodsaaklik dat die saak so gou as moontlik afgehandel word. Die lede wat hulle verteenwoordig sluit alumni, ouers van studente, studente en personeel van UV in. Dié groepe ervaar tans groot onsekerheid oor hulle toekoms.

In die verlede het prof. Jonathan Jansen, rektor van die universiteit, bevestig dat Afrikaans as onderrig- en administratiewe taal aan die UV veilig sal wees solank hy as hoof daar werksaam is. Dit het reeds geblyk leë woorde te wees. Die UV-bestuur se verklaring gister is nóg ’n voorbeeld van die oëverblindery waarmee hulle hul optrede probeer saniteer en regverdig. Dit skep ’n vertrouensbreuk tussen die partye en die bestuur, en ongelukkig word regsaksie nodig om belanghebbendes se regte te beskerm.

Die UV het tot 4 Mei 2016 geleentheid om op die stukke te reageer. Die stukke is omvattend en kan op aanvraag aan die media voorsien word.