‘n Afvaardiging van AfriForum Jeug Tukkies het in swart en wit tronkpakke ‘n memorandum aan die registrateur van die Universiteit van Pretoria (UP), Prof. Nick Grové, oorhandig in protes teen rasseklassifikasie wat studente soos tronkbewoners by hulle eie universiteit laat voel. Dit merk ook die begin van ‘n referendum waaraan studente kan deelneem om te stem of rasseklassifikasie steeds by die UP gebruik moet word.
Daarbenewens word versoek dat rasseklassifikasie in terme van beurstoekennings, Huiskomitee (HK)-verkiesings en toelating tot sekere fakulteite, geskrap word.
“As jongmense voel ons soos gevangenes wat vasgevang is in ‘n tronk van politieke korrektheid. Rasseklassifikasie is besig om van Tukkies ‘n tronk te maak en studente gaan met hierdie memorandum vra dat die tralies oopgesluit word en studente vrygemaak word van ‘n politieke speelveld vir die regerende party,” het Barend Taute, voorsitter van AfriForum Jeug Tukkies, gesê.
‘Studente aan die UP is konstant vasgevang in ‘n geveg teen diskriminasie en rasseklasifikasie. Die UP het vanjaar die eerste groep eerstejaarstudente ingeneem wat in 1994 gebore is, maar hulle word steeds volgens ras, en nie meriete nie, geklassifiseer. Deur studente van die reg te ontneem om volgens meriete te presteer, word Suid-Afrika ontneem van ‘n toekoms met gehalte-leiers en –studente,” sê Taute.
AfriForum Jeug Tukkies versoek dat die UP-bestuur alle vorme van rassediskriminasie verwyder.

Sosiale Media