53bef34568480b1e83921dd71

Tukkies-koshuise kom tot ’n einde

Koshuise by die Universiteit van Pretoria (UP) verander in woonstelblokke wat verblyf sal bied vir of net eerstejaar of net seniorstudente. Dié aankondiging is op 26 Junie aan koshuis-ouers gekommunikeer waarna die UP die toepassing daarvan uitgestel het tot 2015 ná hewige teenkanting van studente.

“AfriForum Jeug het verlede week ’n skrywe aan prof. Themba Mosia, visekanselier vir studentelewe, koshuisaangeleenthede en akkommodasie, gerig wat uitlig dat geen konsultasieproses met studente gevolg is of die effek op studentekultuur volledig bepaal is nie. Verder bevraagteken AfriForum Jeug ook waarom die besluit in vakansietyd geneem is, en op grond waarvan die besluit geneem is,” het Rochelle Oosthuyse, die voorsitter van AfriForum Jeug Tukkies gesê.

In die vergadering op 26 Junie is die volgende inligting oorgedra:

  • Die manskoshuis, Olienhout sal slegs vir eerstejaars beskikbaar wees.
  • Onderskeie dameskoshuise, soos Inca en Asterhof, sal slegs vir eerstejaars beskikbaar wees.
  • Die manskoshuis, Boekenhout sal slegs senior studente akkommodeer.
  • Dameskoshuise, Lillium en Jasmyn, sal slegs senior studente akkommodeer.
  • Besoektye aan manskoshuise sal drasties ingeperk word.
  • Klubhuise in koshuise sal moontlik algeheel ingeperk word.

“Nie koshuisouers, die direkteur van koshuisaangeleenthede óf studenteleiers is geken in die saak nie. Tradisies soos Jool, Ienk Melodienk, Sêr en Kaskarfees is nou in die gedrang. Hierdie besluit ruk die mat onder studentelewe by Tukkies uit,” sê Oosthuyse.

AfriForum Jeug is in gesprek met die UP en het versoek dat geen verdere stappe of besluite geneem word sonder dat studenteleiers daarin geken word nie.

Die Boekenhout manskoshuis op Tukkies.
Die Boekenhout manskoshuis op Tukkies.