OLYMPUS DIGITAL CAMERA

UP-studente se regte geskend; AfriForum Jeug gryp in

AfriForum Jeug Tuks gaan oor die volgende paar dae selfverdedigingsopleiding- en inligtingsessies vir studente van die Universiteit van Pretoria (UP) aanbied. Tydens dié sessies sal studente ingelig word oor hulle regte wanneer betogings op kampus plaasvind, terwyl hulle ook sal leer hoe om hulself in gevaarsituasies te beskerm.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum Jeug se koördineerder vir die Tuks-kampus, kan studente wat belangstel om hierdie sessies by te woon of meer inligting hieroor verlang, hulle naam en van na 072 142 8668 per WhatsApp stuur, waarna addisionele inligting dan via WhatsApp-groepe bekend gemaak sal word.

Morné Mostert, AfriForum Jeug se nasionale projekkoördineerder, sê dat die inisiatief deur die jeugorganisasie begin is omdat die veiligheid van studente op dié kampus en ook op ander universiteitskampusse bedreig word, ongeag die feit dat prof. Cheryl de la Rey, rektor van die UP, AfriForum Jeug verseker het dat studente se regte beskerm sal word.

“Dit is duidelik dat die UP-bestuur nie daarin slaag om te verseker dat betalende studente ongestoord met akademiese aktiwiteite kan voortgaan nie. Dié bestuur laat toe dat ʼn groep van ongeveer 30 oproeriges hul voorskryf, in só ʼn mate dat die kampus tans gesluit is en eers teen 10 Oktober weer sal heropen,” sluit Mostert af.