Rassisme-herrie op CPUT-kampus

AfriForum Jeug oorweeg regstappe nadat Sasco vandeesweek ’n plakkaat by die Kaapstad- en Bellville-kampusse van die Cape Peninsula University of Technology opgesit het wat weereens ’n bevestiging is van die broeiende haat in ANC-geaffilieerde organisasies teenoor internasionale en wit studente.

Die plakkaat het onder meer verwys na wit studente as “white pigs” en meld dat hulle die land moet verlaat. Die ANC-geaffilieerde organisasie, Sasco, verwys ook in die plakkaat na internasionale studente as “cockroaches”.

“Sasco is ’n ekstremistiese organisasie wat ’n nuwe era van rassisme in Suid-Afrika beklemtoon. Hierdie tendens van rassistiese en xenofobiese uitlatings neem al meer toe op universiteitsvlak en Sasco poog om minderheidsgroepe proaktief in Suid-Afrika te smoor,” het Charl Oberholzer, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.

AfriForum Jeug het vandag ’n versoek aan die president van Sasco, Ngoako Selamolela, gerig om ’n geslote vergadering te reël waar die onlangse uitlatings bespreek kan word.

“Die uitlatings van Sasco krenk minderheidstudente se menswaardigheid,” sê Oberholzer.

AfriForum Jeug sal op grond van die uitkoms van die gesprek met Sasco regstappe oorweeg om so ook duidelikheid te kry oor wie verantwoordelik gehou kan word vir die uitlatings.