Petisie word begin teen verpligte eerstejaars-module by Kovsies

AfriForum Jeug Kovsies loods dié week ’n petisie teen die module genaamd UFS101 en maak ook gebruik van fokusgroepe om studente se menings in te win oor dié module wat by die Universiteit van die Vrystaat (UV) deur die rektor, prof. Jonathan Jansen, geinisieer is. In die module word aspekte rondom onder meer geloof, politiek en geskiedenis in die Suid-Afrikaanse konteks bespreek en sekere gedeeltes van die kursus handel oor die bestaan van God en die skuld wat wit jongmense vir apartheid moet dra.

“Studente voel dat hul menswaardigheid aangetas word en dat daar op grond van hul geloof, taal en assosiasie met Afrikaners teen hulle as ’n minderheidsgroep gediskrimineer word,” het Anné Calitz, voorsitter van AfriForum Jeug Kovsies, gesê.

UFS101 is ’n verpligte jaarmodule wat alle eerstejaarstudente vir graaddoeleindes moet slaag. Dit word slegs in Engels aangebied. In die module se uiteensetting word die gebruik van Afrikaans in dié kursus verbied om so “maatskaplike samehorigheid te bevorder”. Studente word verder ook verbied om hul werksopdragte in Afrikaans te beantwoord.

Prof. Dolf Britz, wat studente as gasspreker tydens die UFS101-module toegespreek het, het ’n vergelyking getref tussen die Slag van Bloedrivier en Sharpeville en namens Afrikaners verskoning gevra vir sy geskiedenis omdat Afrikaners se hande met bloed bevlek is en hulle daarom swart mense om vergifnis moet smeek. Eerwaarde Sukdaven het toe in reaksie geantwoord en namens ander Suid-Afrikaners die verskoning aanvaar.

Scenario’s waarin ’n swart student drie onderskeidings in matriek behaal het, teenoor ’n wit student wat agt behaal het, word ook in die kursus aan studente voorgehou, waarna die studente moet verduidelik waarom meriete nie as maatstaf vir toelating behoort te geld nie.

“Die Afrikaner word as boosaardig voorgehou, terwyl ander groepe as vlekkelose helde uitgebeeld word. Studente neem verder aanstoot aan die wyse waarop Christenskap in twyfel getrek word en die manier waarop hulle gedwing word om eenvormige opinies te vorm. Studente word eenvoudig volgens ’n eensydige en bevooroordeelde weergawe van Suid-Afrika geïndoktrineer en die module is daarop gemik om aanvaarding te skep vir die beginsel dat een groep se vooruitgang deur ’n onreg teenoor ’n ander gebou moet word,” het Calitz gesê.

Studente het in die fokusgroepe aangedui dat “hulle nie vasgevang wil word in vorige generasies nie, maar wil aanbeweeg”. Studente het verder genoem dat hulle gepenaliseer word as hulle in Afrikaans skryf en dat hulle verneder word as hulle nie die opinie van die dosent deel nie. Calitz het bygevoeg dat die module rassespanning op kampus veroorsaak, terwyl wedersydse erkenning en respek op kampus nagestreef behoort te word.

“Studente wil op ’n vreedsame wyse met mekaar saamleef en met wedersydse respek oplossings vir hul eie generasie kry. Indien dit UFS101 se doel is om kritiese denke te ontwikkel, moet daar steeds eerlik en gebalanseerd met die geskiedenis omgegaan word,” sê Calitz.

Die petisie is daarop gemik om enkele eenhede in die module aan te pas sodat verskeie minderheidsgroepe se sienings ook daarin vervat word en om die vak ook in Afrikaans beskikbaar te stel.