Nzimande erken probleem in fakulteit veeartsenykunde

AfriForum Jeug het die afgelope week ’n amptelike skrywe van Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, ontvang waarin hy erken dat ingryping nodig is om daarvoor voorsiening te maak dat studente wat akademies presteer, tot die fakulteit veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria (UP) toegelaat moet word.Nzimande het aangedui dat hy ’n werkgroep saamgestel het nadat AfriForum Jeug protes aangeteken het teen rasgebaseerde toelatingsvereistes deurdat lede vroeër vanjaar voor die departement van hoër onderwys hul gesigte swart geverf het. Die doel van die werkgroep is om die minister van advies te bedien oor hoe kapasiteit vir die fakulteit veeartsenykunde uitgebou kan word

“Ons verwelkom Nzimande se gesindheid, maar uit ervaring weet ons dat dit nie genoeg is nie. Die huidige beleid oor toelatingsvereistes vir die fakulteit veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria (UP) en die Universiteit van Kaapstad (UCT) se fakulteit gesondheidswetenskappe is teenstrydig met internasionale konvensies wat in 2000 deur die Suid-Afrikaanse regering bekragtig is,” het Charl Oberholzer, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.

Nzimande het ook toegegee dat veeartsenykunde ’n skaarsvaardigheid in Suid-Afrika is, maar dat die sisteem versterk moet word in die konteks van die uitdagings wat met toegang tot onderwys verband hou. Hy het aangedui dat bykomende finansiering benodig word.

“Die departement koppel finansiering vir die fakulteit met rasseteikens wat ten opsigte van graduandi bereik moet word. Dit is egter nie volhoubaar nie, aangesien rasverteenwoordiging van veeartse in Suid-Afrika nie bepalend is of gelykheid bereik is nie,” sê Oberholzer.

AfriForum Jeug het ook onlangs met Carlton Mukwevho, die sekretaris van die Suid-Afrikaanse nasionale kommissie van die Verenigde Nasies (VN) se organisasie vir onderwys, wetenskap en kultuur (Unesco), vergader en ’n voorstel gemaak oor die diskriminerende toelatingsvereistes wat by Suid-Afrikaanse universiteite geld. Daarbenewens is versoek dat dié kommissie Unesco nader om druk op die departement van hoër onderwys uit te oefen om rasgebaseerde toelatingsvereistes te wysig

AfriForum Jeug het ook versoek dat Unesco die departement van hoër onderwys adviseer oor hoe om beleid so aan te pas dat die verlede in ag geneem kan word sonder dat sekere studentegemeenskappe uitgelaat word.

AfriForum Jeug verteenwoordig meer as 30 studente wat gesamentlik meer as 200 onderskeidings behaal het en wat die afgelope jaar by die UP weggewys is weens “swak akademiese prestasie”. Intussen is verskeie voorstelle aan die UP, sowel as die departement van hoër onderwys voorgelê om ruimte te skep vir studente wat op grond van hul ras weggewys word.