AfriForum Jeug het gesê dat Julius Malema, die voormalige president van die ANC-Jeugliga (ANCYL), sy eie grond aan die Khoisan-gemeenskap moet teruggee as hy regtig in sy eie weergawe van die geskiedenis glo. AfriForum Jeug meen dat Malema besig is om geweld te verromantiseer, terwyl erge geweldsmisdaad reeds ’n hartseer realiteit in Suid-Afrika is.
Dit kom na aanleiding van ’n toespraak wat Malema onlangs by ’n spogtroue in Harare, Zimbabwe gemaak het. Hy het wit mense onder meer daarvan beskuldig dat hulle grond gesteel het en dat die ANCYL nie daarvan sal terugdeins as dit sou nodig wees dat bloed moet vloei as wit mense nie van hul grond wil afstand doen nie.
“Malema se voorouers het self suidwaarts getrek en sonder grond in Suid-Afrika aangekom. AfriForum Jeug is daarom van mening dat Malema geen aanspraak kan maak op die bydrae wat wit mense in Suid-Afrika gemaak het nie. Dit is nie net rassisties om geweld teen ’n sekere gemeenskap aan te blaas nie, maar dit is ook kortsigtig om nie te besef dat al twee partye in konfliksituasies geraak word en dat daar geen wenner in geweld is nie, het Charl Oberholzer, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.
“Die geskiedenis is kompleks en om ’n verwronge weergawe daarvan te versprei, is bloot vandalisties teenoor elke Suid-Afrikaner wat wel ’n positiewe bydrae in die land wil maak. As jongmense is ons hier om te bly en sal ons ook nie van ons probleme weghardloop nie. Geen gemeenskap moet terugstaan om die reg tot vreedsame naasbestaan te verdedig nie.”

Sosiale Media