ANC Jeugliga maak witmense die vyand

AfriForum Jeug het gesê dat die aanval wat die ANC Jeugliga (ANCYL) in ‘n mediaverklaring op die voormalige hoof van die Johannesburgse Effektebeurs, Russel Loubser geloods het, duidelik aandui dat die ANCYL besig is om ‘n rasse-oorlog aan te hits.

“Die ANCYL verdedig hulle eie ekstremisme deur witmense die vyand te maak, terwyl armoede die vyand moet wees. Die ANCYL is konstant besig met onberekende argumente oor die ekonomie, terwyl haat, rassisme en intimidasie die enigste metode is wat die ANCYL kan gebruik. Die optrede en uitlatings van die ANCYL bewys aan die wêreld dat die ANC reeds só geradikaliseer is dat wedersydse respek heeltemal ontbreek.

Die ANCYL het verder in ʼn verklaring geïmpliseer dat hulle geweld sal gebruik indien Loubser voortgaan om homself uit te spreek teen die jeugliga.

AfriForum Jeug eis hiermee dat die ANC-leierskap sal intree indien hulle enigsins waarde heg aan politieke stabiliteit in Suid-Afrika en nie ‘n leierskapsverleentheid vir die res van die wêreld sal wees nie.