AfriForum versoek finansiële rekords van landboukollege

AfriForum het by die Mafikeng-hooggeregshof ʼn aansoek ingedien ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting om die Potchefstroom Landboukollege te verplig om finansiële rekords beskikbaar te maak of voldoende redes te verskaf waarom die inligting vertroulik moet bly.

Die Potchefstroom Landboukollege het sedert 2005 drasties agteruit gegaan, as gevolg van onder meer: haglike leefomstandighede vir studente; historiese geboue wat verwaarloos word; verouderde studiemateriaal; en onbekwame dosente. Dit het gelei tot die drastiese afname in die getal studente. 

“Dit is asof die kollege stilstaan, maar as ʼn instelling van hoër onderwys ontvang die kollege subsidies vanaf die regering.  Ons wil weet hoe die geld aangewend word,” het Werner Human van Hurter Spies Ingelyf, AfriForum se regsverteenwoordigers, gesê.

“Ons sal die rekords bestudeer en verdere optrede oorweeg. Daar was verskeie skriftelike versoeke om met die bestuur te vergader en ondanks al die positiewe pogings deur AfriForum, word die saak met vyandigheid hanteer. Die feit dat die bestuur aanhou swyg is veelseggend opsigself,” het Human bygevoeg.

Die saak is vir 8 November 2012 op die onbestrede rol geplaas.