AfriForum Jeug vra vir bewyse van NYDA se prestasie

AfriForum Jeug het uitlatings wat President Jacob Zuma in sy toespraak by die “Presidential Indaba on Youth Jobs and Skills” gemaak het, bevraagteken en ‘n skrywe aan die NYDA gerig om bewyse aan te vra vir hulle aandeel in die 420 000 poste waarna Zuma verwys het.

Zuma het ook aangekondig dat daar R10 miljoen se fondse aan die NYDA toegestaan is.

“Ons sal wil weet hoeveel van die 420 000 werksgeleenthede is deur die NYDA geskep, en verder hoeveel van daardie poste werklik volhoubare werksgeleenthede is en hoeveel daarvan slegs tydelike of skynposte is. Dit is onverklaarbaar dat die NYDA miljoene rande by die regering kry sonder behoorlike bewyse van wat met die geld gedoen word. Dit lyk asof die NYDA getalle manipuleer hier op die vooraand van die verkiesing,” sê Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug.

“Lede van hulle Direksie van hierdie einste organisasie is verlede jaar ondersoek en gearresteer op aanklagte van korrupsie,” sê Maree. Die NYDA was die afgelope twee jaar in die nuus oor onder meer die volgende:

  • Andile Lungisa, voormalige hoof van die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (NYDA), is gearresteer na beweerde bedrog van sowat R2.5 miljoen.
  • Buitensporige bonusse van 17-21% van direkteurs se jaarlikse salarisse is uitbetaal.
  • R14 miljoen is in 2011/2012 op vervoer en vermaak bestee.
  • R33 miljoen is in 2011/2012 spandeer aan kommunikasie en openbare betrekkinge.

“Die miljoene rande wat aan die NYDA toegestaan word, behoort eerder aan gemeenskappe en nie-regeringsinstansies te gaan waar politiek nie bepaal wie die geleentheid ontvang nie. Gemeenskappe moet self mense kan ophef en die bevordering van entrepreneurskap moet uit die hande van regeringsamptenare gedesentraliseer word,” het Maree gesê.