AfriForum Jeug Maties het vandag ’n omvattende taalverslag, insluitend 134 klagtes oor spesifieke modules aan die Universiteit van Stellenbosch (US) wat van die voorgeskrewe taalspesifikasies afwyk, by die Akademiese Belangeraad (ABR) en die registrateur van dié universiteit ingedien. AfriForum Jeug het tydens ’n blitsopname onder 100 studente in enkele dae ’n totaal van 155 klagtes ingesamel.
“Dit is kommerwekkend dat 87% van die klagtes wat tydens die opname aangeteken is oor die gebrek aan Afrikaans op die US gaan. Dit dui daarop dat studente by die US die afname van Afrikaans op grondvlak ervaar,” het Conrad Basson, voorsitter van AfriForum Jeug Maties, gesê.
Van die 155 klagtes gaan 62 oor afwykings vanaf die A-taalspesifikasie en 72 oor afwykings vanaf die T-taalspesifikasie. Die verslag identifiseer 56 verskillende modules aan die US wat van die taalspesifikasies afwyk. Hidroulika 354, Struktuurleer 354 en Geskiedenis 144 is maar enkele voorbeelde van modules waarmee studente worstel weens ’n gebrek aan studiemateriaal en die aanbieding van lesings in Afrikaans. Die taalverslag identifiseer 56 verskillende modules ten opsigte waarvan taalverwante probleme voorkom. Verder is 19 klagtes oor Engelse modules ingesamel. Die oorblywende twee klagtes was nie bruikbaar nie.
Die A-taalspesifikasie verwys na lesings wat parallel met mekaar in Engels en Afrikaans aangebied word en die T-opsie is ’n dubbelmedium-taalspesifikasie waar Afrikaans en Engels in dieselfde klaskamer op ’n 50/50-grondslag in ’n lesing gebruik word. In die geval van die T-opsie moet alle studiemateriaal ook in beide tale beskikbaar gestel word.
“Die doel van die opname was nie om wetenskaplike bewyse aan die US te verskaf nie, maar eerder om te bewys dat daar van die voorgeskrewe taalspesifikasies afgewyk word en dat daar studente is wat ongelukkig is daaroor. Ons hoop dat die US en ABR makliker kan aandag gee aan die taalkwessies noudat spesifieke modules geïdentifiseer is,” sê Basson.
“Studente voel dikwels te blootgestel wanneer hulle die universiteit se kanale moet volg om taalklagtes in te dien, daarom moedig AfriForum Jeug studente aan om klagtes anoniem aan AfriForum Jeug se Maties-tak by e-posadres maties@afriforum.co.za te stuur,” voeg Basson by.
AfriForum Jeug Maties sal as skakel tussen die ABR, die US en studente dien om te verhoed dat taalklagtes nie weens vrees vir viktimisasie verlore gaan nie.

Sosiale Media