AfriForum Jeug Kovsies oorhandig sowat 550 petisies

AfriForum Jeug Kovsies het vandag sowat 550 petisies aan die rektor van die Universiteit van die Vrystaat (UV), prof. Jonathan Jansen oorhandig. Die petisie hou verband met studente se protes teen die UFS101-eerstejaarsmodule. Daarbenewens het AfriForum Jeug homself daartoe verbind om op ’n konstruktiewe wyse met die universiteit saam te werk om aandag aan sekere studentekwessies te gee.

“AfriForum Jeug het homself die afgelope jaar gevestig as ’n kanaal tussen studente en die universiteit om klagtes te hanteer en daarom strek dit tot voordeel van beide die studente en die UV as gehoor gegee word aan die studente se mening oor modules soos die UFS101 wat aanstoot gee,” het Anné Calitz, voorsitter van AfriForum Jeug Kovsies, gesê.

UFS101 is ’n verpligte module waarin onder meer politiek, geskiedenis en geloofsoortuigings aangeraak word. Onderwerpe in die module soos die betwyfeling van Goddelike ingryping by die slag van Bloedrivier, die gelykstelling van Bloedrivier aan Sharpeville, die skuld wat die Afrikaner vir sy verlede moet dra, die prioritisering van regstellende aksie bo meriete en die debat oor die bestaan van God het die meeste reaksie ontlok. Talle studente meen egter dat hul vryheid van assosiasie en uitdrukking onbillik ingeperk word en dat talle gesprekke in die aanbieding van die module studente se menswaardigheid aantas.

Tot dusver het AfriForum Jeug Kovsies reeds verskeie gesprekke met prof. Jansen hieroor gevoer en studente hoop om binnekort ’n oplossing te vind wat sal getuig van wedersydse respek en samewerking.