Stappe teen Lamola vir sy uitlatings gaan voort

Die adjunkpresident van die ANCYL het vandag aan AfriForum Jeug gesê hy weier om verskoning te vra vir sy onlangse uitsprake oor boere se veiligheid en het aangedui dat hy nie van voorneme is om hierdie uitsprake te staak nie. In reaksie hierop het AfriForum Jeug aangedui dat dié organisasie nou met ʼn klag van haatspraak in die gelykheidshof teen Lamola sal voortgaan. ʼn Kriminele klag vir intimidasie en aanhitsing tot geweld is ook reeds ingedien.

Hierdie verwikkeling het vandag tydens ʼn gesprek tussen die leierskap van die twee jeugbewegings in Luthuli-huis plaasgevind. AfriForum Jeug het aan die ANCYL gesê dat hul standpunte oor grondhervorming op ʼn growwe wanvoorstelling van die geskiedenis gebaseer is en dat die debat verskuif moet word na een waarin die waarheid oor die geskiedenis van grond gesoek word voordat standpunte oor grondhervorming ingeneem word. AfriForum Jeug het ook Engelse eksemplare van die boek, Treurgrond, aan die ANCYL oorhandig. Dié boek bevat besonderhede oor 1 445 boere wat oor die afgelope 20 jaar op plase vermoor is.

Die nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, Charl Oberholzer, het gesê dat die beweging daarin glo dat gepoog moet word om politieke dispute deur gesprekvoering te ontlont en dat dit die rede is waarom AfriForum Jeug met die ANCYL in gesprek getree het. “In hierdie geval is dit egter duidelik dat die ANCYL nie bereid is om hul siening te verander nie, nie eers toe ons versoek het dat eerlikheid vooropgestel word nie. Die ANCYL het dit duidelik gestel dat hulle nie bereid is om verskoning te vra of om die onderneming te gee dat hulle nie sal voortgaan om uitsprake wat rassehaat aanmoedig, te maak nie,” het Oberholzer gesê. “Ons het voorts die indruk gekry dat die ANCYL geen begrip vir die gewelddadigheid en hoë voorkoms van plaasmoorde het nie,” het Oberholzer gesê.

Die ANCYL se benadering is nie om grondhervorming op grond van feite te bevorder nie, maar om grond van wit na swart oor te dra. “Dit het dus ʼn suiwer rassevertrekpunt.”

Oberholzer het bygevoeg dat die ANCYL spesifiek gevra is oor watter grond hervorm moet word en wanneer dit “gesteel” is, waarop hulle nie kon antwoord nie.

In die lig hiervan het AfriForum Jeug aangedui dat hulle met ʼn tweede regsproses teen die ANCYL sal voortgaan. “Ons beskou Lamola en die ANCYL se uitlatings in ʼn baie ernstige lig en daarom sal ons nie skroom om ernstige stappe te neem om dit teen te staan nie.