AfriForum Jeug eis verskoning van Memela oor rassisme

AfriForum Jeug eis dat die rubriekskrywer, Sandile Memela, om verskoning vra aan alle Suid-Afrikaners ná rassistiese uitlatings wat hy in ʼn blog gepubliseer het. In die blog sê Memela dat sommige wit mense om twee redes vuurwapens koop: om diere en swart mense te skiet. Sommige wit mans, sê Memela, onderskei nie tussen die twee nie. 

Hy het verder aangevoer dat indien Oscar Pistorius ʼn swart inbreker in plaas van Reeva Steenkamp geskiet het, soos wat Pistorius aanvoer hy gedink het hy doen, hy in alle waarskynlikheid nooit in die hof sou verskyn het nie maar as held vereer sou word.

Memela is ook die hoofdirekteur van sosiale kohesie in die Departement van Kuns en Kultuur.

“AfriForum Jeug is van mening dat mnr. Memela se uitlatings rassespanning aanblaas en dat dit wit Suid-Afrikaners se menswaardigheid aantas. Daarbenewens eis sy pos van hom om juis wedersydse respek en verdraagsaamheid te bevorder, en hy het dit duidelik versaak. AfriForum Jeug eis dus dat mnr. Memela in die openbaar aan alle Suid-Afrikaners om verskoning vra,” sê Eduan Dupper, woordvoerder van AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug versoek ʼn gespreksessie met mnr. Memela om die uitlatings wat gemaak is te bespreek en sodoende te verseker dat sulke uitlatings nie weer geuiter word nie.

Lees mnr. Memela se rubriek hier:

http://www.thoughtleader.co.za/sandilememela/2014/03/04/oscar-would-be-a-hero-if-only-reeva-was-a-black-man/