purple

AfriForum Jeug eis dissiplinêre optrede teen personeel en SR-voorsitter van die US

AfriForum Jeug neem kennis van prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die Universiteit van Stellenbosch (US), se voorneme om ʼn onafhanklike kommissaris aan te stel om die US se hantering van gebeure by die Heemstede-dameskoshuis se “blackface”-voorval te ondersoek.

Volgens Bernard Pieters, AfriForum Jeug se Maties-kampuskoördineerder, ontstaan die vraag waarom die rektor só ’n aankondiging sou maak slegs enkele dae nadat hy in ’n vorige verklaring te kenne gegee het dat hy tevrede is dat die korrekte prosedures ingevolge die konsepbeleid gevolg is.

AfriForum Jeug het aan sy regsverteenwoordigers opdrag gegee om ’n afskrif van die ondersoekdossier van die twee studente se vervolging te bekom, asook om ’n afskrif van die kommissaris se mandaat aan te vra. Die persone teen wie die klagtes ingedien word, sluit in mnr. Mathew Smorenburg (personeellid), mnr. Lesley van Rooi (personeellid), mnr. Pieter Kloppers, prof. Arnold Schoonwinkel (viserektor) en mnr. Axolile Diamond Qina (US-studenteraadsvoorsitter).

Intussen het AfriForum Jeug vandag dissiplinêre klagtes by die toepaslike US-owerhede gelê teen onder andere mnr. Smorenburg en ander individue vir die rol wat hulle in die onregmatige tydelike skorsing van die twee studente en die traumatiese gevolge daarvan gespeel het. AfriForum Jeug sal daarbenewens getuienis en bewyse van sy eie ondersoek aan die aangestelde kommissaris beskikbaar stel om tydens sy ondersoek te oorweeg.