Potch-320x227-1

AfriForum Jeug eis dat Wessels-verslag verwerp word

AfriForum Jeug het vandag `n prokureursbrief aan die Raad van die Noordwes-Universiteit gestuur waarin die Raad versoek word om nie die Wessels-verslag in sy huidige vorm te aanvaar of na die minister van hoër onderwys te verwys nie. AfriForum Jeug het die stap gedoen nadat dit duidelik geword het die verslag nie aan die bepalings van die Wet op Gelykheid voldoen nie en tot onbillike diskriminerende en stereotiperende gevolgtrekkings kom.

“Die verslag is duidelik diskriminerend teenoor alle Afrikaners en grens selfs aan haatspraak.  In die skrywe versoek ons dat die Raad die verslag verontagsaam. Indien hulle nie aan ons versoek gaan voldoen nie, sal ons die moontlikheid oorweeg om die Raad ook ingevolge die Wet op Gelykheid aanspreeklik te hou,” het Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.

Artikels 10 en 12 van die Wet op Gelykheid bepaal dat niemand inligting mag publiseer wat redelikerwys vertolk kan word dat dit –

  • krenkend of skadelik is;
  • haat teen enige spesifieke groepering bevorder; of
  • met die bedoeling geskied om onbillik te diskrimineer teen ‘n groep persone op grond van hulle ras of taal nie.

Uit inligting wat reeds deur die media versprei is, is dit duidelik dat hierdie verslag teen wit mense in die algemeen en Afrikaners in die besonder diskrimineer deurdat hulle as die “oorsprong van die probleem” op die NWU se Potchefstroomkampus uitgebeeld word.

“Die NWU-Raad vergader weer op Donderdag 19 Junie en ons sal vanuit die Raad se antwoorde en die minister se optrede presies kan sien of daar aan ons versoek voldoen is,” het Maree afgesluit.

Sien prokureursbrief deur hier te kliek