Dienste-seta word verplig om sertifikate uit te reik

AfriForum Jeug gaan voort met regstappe om die Dienste-seta te verplig om 180 studente, wat al vir meer as drie jaar vir hul ambagsertifikate wag, se sertifikate uit te reik.

AfriForum Jeug is sedert Maart vanjaar besig om met die Dienste-seta se hoofkantoor te skakel oor dié studente te sertifikate. 

“Die Dienste-seta het keer op keer e-posse en telefoonoproepe geïgnoreer, waarna daar met die kantoor van die uitvoerende hoof van dié SETA geskakel is. Alhoewel Thandi Mkhize van die Dienste-seta aangedui het dat die sertifikate so gou moontlik uitgereik sal word, het Bibi Madiba namens dr. Sinclair Moon se kantoor aangedui dat die probleem niks met hulle te doen het nie,” het Ian Cameron, woordvoerder van AfriForum Jeug, gesê.

“Talle jongmense kan nie werk sonder hulle ambagsertifikate kry nie en dit ná hulle betaal het om kursusse te loop om kwalifikasies te bekom. Dit beteken hulle kan geen bewyse lewer dat hulle opgelei is nie. Dit is ’n ernstige skending van hulle reg tot billike administrasie.”

Cameron sê verder dat administratiewe wanbestuur by die Dienste-seta aan die orde van die dag is en dat die bevoegdheid van administratiewe beamptes betwyfel word. “Vakante poste is moontlik ’n verdere oorsaak vir die gebrekkige diens, maar meer duidelikheid sal verkry word deur ’n versoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting te rig.”

“Dit is onaanvaarbaar dat ’n land wat gebuk gaan onder werkloosheid en wat ’n groot tekort aan ambagsmanne het met administrasieprobleme sukkel.”

Die Dienste-seta is oorspronklik ingestel om vaardighede wat in die dienstesektor benodig word te identifiseer en te bevorder. Dié SETA is verantwoordelik om vaardighede beskikbaar te stel vir die dienstesektor om sodoende ’n balans tussen die vraag na en aanbod van vaardighede te skep.

“Ons soek antwoorde. Die jeug is moeg daarvoor om te werk vir iets, maar om dit nie te kry nie omdat die owerhede onbevoeg is om studente te help slaag in hulle soektog na beter opleiding,” het Cameron bygevoeg.