DSC00479-2

AfriForum Jeug boikot Jeugdag

AfriForum Jeug se nasionale bestuur het vandag aangekondig dat hulle nie vanjaar jeugdag gaan vier nie. “Om jeugdag te boikot is vir ons juis ‘n wyse waarop ons eerder wil afstand kry van ’n regering wat jongmense onderdruk deur middel van hulle eie onvermoë om geleenthede te skep,” sê AfriForum Jeug.

“Die regering se onvermoë moet nou eerder as motivering vir jongmense dien om hand in eie boesem te steek. Jeugdag het die afgelope paar jaar eerder in ‘n spog geleentheid vir politieke partye ontaard,” het Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.

AfriForum Jeug voer die volgende redes aan waarom hulle Jeugdag boikot:

  • Die regeringsbeursfonds, NSFAS, wat nie genoegsame fondse beskikbaar gehad het om die duisende studente wat daarvan afhanklik was te ondersteun nie. Dit het talle betogings aan die begin van die akademiese jaar veroorsaak.
  • Die onderwysdepartement het weereens nie daarin geslaag om handboeke by alle skole uit te kry nie. Net soos in die afgelope paar jaar is Limpopo die ergste hierdeur geraak.
  • Matrikulante en studente kry nie almal gelyke geleenthede tot studiebeurse en toelating nie, rasseklassifikasie veroorsaak dat baie van die beste kandidate nie ’n opsie kry nie.
  • Die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (NYDA) se top bestuur se nabye betrokkenheid by beweerde korrupsie en wanbesteding. Al hierdie befondsing was veronderstel om aan jong entrepreneurs te gaan en weereens is hierdie regeringsorganisasie een van die grootste sondaars as dit kom by korrupsie.
  • Suid-Afrikaanse skole se wetenskap en wiskunde is volgens die die Wêreld-Ekonomiese Forum, die swakste uit 148 lande.
  • Die werkloosheidsyfer, volgens StatsSA, het onder Suid-Afrikaanse jongmense drasties toegeneem vanaf 32,7% in 2008 tot 36,1% in 2014.

“Die derduisende rande wat jaarliks bestee word aan jeugdagvieringe kan maar eerder laat vaar word totdat daar werklik die dag iets noemenswaardig is om op trots te wees,”  het Maree gesê.

AfriForum Jeug het die afgelope naweek gebruik om die Witkruismonument, wat opgerig is ter herdenking van plaasmoordslagoffers, in Potgietersrus op te knap en te restoureer. Duisende kruise is geverf, ingekap en die terrein is skoongemaak.

Opknapping van Witkruis-monument op Jeugdag.
Opknapping van Witkruis-monument op Jeugdag.