AfriForum doen beroep op Minister van Basiese Onderwys om te bedank

AfriForum het ʼn beroep op die Minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga gedoen om te bedank en so aanspreeklikheid vir die huidige skoolhandboekchaos te aanvaar.Na ses maande het leerlinge in Limpopo steeds nie almal handboeke ontvang nie, terwyl derduisende handboeke skynbaar in ʼn pakhuis staan en ander vernietig word.  As die minister nou bedank, sal dit volgens AfriForum die baie nodige boodskap aan die land gee dat die regering ernstig oor onderwys is en dat amptenare, van die laagste tot die hoogste vlak, aanspreeklikheid vir foute sal aanvaar.

“Om verskoning te vra, is eenvoudig nie langer goed genoeg nie,” het Alana Bailey, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum gesê.  “Meer as 80% van die skole in Suid-Afrika is disfunksioneel, volgens die VN is 89% van die land se volwassenes ongeletterd en armoede asook werkloosheid neem krisisafmetings aan.  As die minister nie eens kan onderneem dat dieselfde probleme met handboekvoorsiening nie weer in 2013 gaan opduik nie, is haar verskonings ʼn mors van tyd.”

“Deur die land steel die onderwysowerhede se onbekwaamheid letterlik die Suid-Afrikaanse jeug se toekoms,” het Bailey verklaar.  Die afgelope maand is ʼn klag onder meer deur AfriForum ontvang van skole in gebiede wat deur armoede geteister word, maar skitterende slaagsyfers handhaaf, dat die Gautengse onderwysdepartement nie handboeke aan hulle wil voorsien nie “omdat die leerlinge te goed vaar”.  In die Oos-Kaap is ʼn parallelmedium Afrikaanse en Xhosaskool besoek waar die leerlinge geen boeke of skryfbehoeftes het nie.  In beide gevalle word verneem dat hardwerkende hoofde en onderwysers deur departementele amptenare op minagtende of selfs intimiderende wyse behandel word.  Leerlinge en ouers wat nie toegang tot handboeke en skryfbehoeftes het nie, moet verneem dat dit op vermorsende wyse vernietig word.

“Suid-Afrika beskik oor wêreldleiers op die gebied van onderwys.  Dit is tyd dat die regering ‘huis skoonmaak’ in die nasionale en provinsiale onderwysdepartemente en vennootskappe met sulke kundiges en instellings sluit om te verseker dat die jeug van vandag nie more nog ʼn verlore generasie word nie.  Ook burgerlike organisasies soos AfriForum is meer as bereid om te help waar moontlik, maar dan moet daar ʼn politieke wil wees om onderwys in Suid-Afrika op ʼn wenpad te plaas,” het Bailey gesê.